Risotto
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Jy het nodig:
4 hoenderborsies (met die vel en been aan)
15ml olyfolie
2 roosmaryntakkies
50g botter
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 groot ui, fyngekap
1 takkie vars tiemie, net die blaartjies
5ml swartpeper
300g risotto-rys (soms noem hulle dit Arborio-rys)
150g vars sjimeji-sampioene (of enige sampioene van jou keuse)
100g vars groen aspersies
500ml hoenderaftreksel, gemeng met 250ml kookwater
10ml suurlemoenskil
1 appel
4e fyngerasperde parmesaankaas
15ml suurlemoensap
Só maak ’n mens:
1. Plaas die hoenderborsies in ’n oondvaste bak en sprinkel die olyfolie oor. Pak ook die roosmaryn rondom die hoender. Geur met sout en peper en plaas in ’n oond by 200°C, bak sowat 25 minute tot gaar. Sny die gaar hoender in repies en hou eenkant tot benodig.
2. Smelt die botter in ’n swaarboompan oor matige hitte. Voeg die knoffel en uie by en soteer tot deurskynend. Dit is belangrik dat die uie en knoffel nie bruin braai nie. Soteer dit daarom stadig oor matige hitte.
3. Voeg die tiemie en swartpeper by en roer goed voordat jy die rys byvoeg. Kook stadig vir sowat 5 minute, roer elke nou en dan.
4. Hou ’n kwart van die aspersiepuntjies eenkant vir garnering, maar kap die res op en voeg dit by die rysmengsel.
5. Sny driekwart van die sampioene in dun skyfies en voeg dit ook by die bestanddele in die pan. Jy kan nou begin om die aftreksel-en-watermengsel by te voeg, een soplepel op ’n keer. Roer goed ná elke byvoeging sodat die stysel in die ryskorrels vrygestel kan word.
Dit hang af van die soort rys wat jy gebruik hoeveel vloeistof jy gaan nodig hê. Sommige soorte sal meer vereis, ander weer minder. Hou die mengsel fyn dop en begin na sowat 30 minute se kooktyd die risotto proe om te bepaal of dit dalk gereed is.
6. Sodra die rys gaar is, maar nie heeltemal sag nie, voeg die suurlemoenskil by, proe en geur na smaak met nog sout en swartpeper.
7. Voeg die gerasperde parmesaankaas by en verhit weer tot deurwarm. Soteer die res van die aspersies en die sampioene in ’n pan. Sny die appel in blokkies en sprinkel die suurlemoensap oor om te voorkom dat dit verbruin.
8. Sit die risotto voor in ’n bak, met die hoender, appelblokkies, aspersiepuntjies en sampioene bo-op. Sit dadelik voor.
Foto: Leandri van der Wat
Comments