Romerige stampmielies met basielkruid-pesto en biltong
- Leandri & MasterChef SA Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Genoeg vir 4 as ’n maaltyd.
Jy het nodig:
2 k stampmielies, oornag in water geweek
500 ml melk
1 lourierblaar
½ ui, gekap
1 t fyngekapte knoffel
3 e meel
3 e botter
sout en peper na smaak
2 handevol basielkruidblare
100 ml olyfolie
100 g neute van jou keuse (dennepitte of kasjoeneute werk goed)
50 g parmesaankaas, gerasper
2 e suurlemoensap
biltong en songedroogde tamaties, om mee voor te sit
Só maak ’n mens:
1. Plaas die stampmielies in ’n mikrogolfbestande bak en giet genoeg water oor om dit te bedek. Mikrogolf op hoog vir ’n uur of tot die stampmielies sag is.
2. Terwyl die stampmielies gaar word, verhit die melk, ui, knoffel en lourierblaar saam in ’n kastrol tot stomend.
3. In ’n aparte kastrol, smelt die botter en roer die meel by. Roerbraai tot die botter ’n ligte haselneutkleur is. Klits die warm melk by en kook vyf minute of tot dik. As dit nie goed dik word nie, roer 1 t mielieblom by en kook nog ’n rukkie.
4. Giet die witsous deur ’n sif en roer dit by die stampmielies. Proe en geur na smaak met sout en peper.
5. Maak ’n vars pesto deur die neute, kruie en kaas saam te verwerk in jou voedselverwerker of met ’n stamper en vysel. Sodra dit redelik glad is, drup die olyfolie bietjies-bietjies by en dan die suurlemoensap. Geur na smaak.
6. Skep die stampmielies in opdienbakke en drup van die pesto na smaak oor. Sprinkel ’n handvol biltong oor en ook ’n bietjie songedroogde tamaties (en miskien fyngekapte vars rissie, indien verkies) en ’n paar skaafsels parmesaankaas.
Foto: Seline van der Wat
Comments