Sago-poeding met steranys
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 1 min read

Oorgenoeg vir 4 porsies en seconds ook. In ons huis maak ek genoeg sodat ek ’n alleenloper kan oornooi om ’n bakkie te kom haal vir Sondagaand-smul.
Bestanddele
1 k sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie – dit maak dalk die kinders bang)
Kaneelstokkie
3 kardomonpeule
2 steranys
4 koppies melk
125 ml suiker
30 ml botter
’n knippie sout
3 eiergele, liggies geklits
2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm
appelkooskonfyt om te stip
fyn kaneel vir oorstrooi (opsioneel)
Vir meringue
5 eierwitte
160 ml strooisuiker
Knippie sout
Metode
1. Verhit die oond tot 180°C.
2. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte op die stoof terwyl jy roer tot die korrels
deurskynend is.
3. Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by.
4. Roer ’n paar lepels van die warm
mengsel by die geklitste eiergele (dit voorkom ‘roereiers’).
5. Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel by.
6. Vou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie, maarek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).
7. Skep in ’n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt. Strooi kaneel oor.
8. Maak die meringue: Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en ’n knippie sout.
9. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is.
10. Skep in warm opdienbakkies, sprinkel die fyn kaneel oor en sit dadelik voor.
Foto: Ian du toit
Comments