Sjokoladekoek onder sensuur
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 2 min read

Vir die koek benodig jy:
115g ongesoute botter, in blokkies gesny en ekstra om die pan mee te smeer
55ml koekmeel
250g goeie donkersjokolade, grof gekap
250ml suiker
4eiers
¾t sout
So maak ’n mens:
Voorverhit die oond tot 165°C. Smeer ’n 23cm-losboom-koekpan met botter en bestrooi liggies met meel. Verhit die sjokolade, suiker en botter in ’n hittebestande bak bo-oor ’n kastrol liggies kokende water sonder dat die boom van die bak aan die water raak. Roer dit totdat die sjokolade bykans gesmelt is, omtrent 3min. Haal van die plaat af en hou aan roer tot die sjokolade gesmelt is. Laat die mengsel heeltemal afkoel (ek sit die bak in ’n wasbak met koue water).
Met ’n elektriese klitser (mediumspoed), klits die eiers een vir een by die sjokolademengsel in. Sodra al die eiers bygemeng is, klits die mengsel tot mousse-agtig. Klits stadiger en voeg die sout en die meel by. Meng dit net goed deur. Skep die beslag in die gesmeerde pan. Bak 55 tot 60 min. totdat die bokant ferm is en dit om die rand donker raak. Plaas op afkoelrak en laat koud word voordat jy dit uitkeer.
Vir die rooiwyn-sjokolade- glasuur:
250g donkersjokolade, in blokkies
¼k ongesoute botter
½t sout
½k baie fyn strooisuiker
½k rooiwyn, soos shiraz
Vir afronding (opsioneel): brame of ander donker bessies
Smelt die sjokolade, botter en sout in ’n bak bo-oor kastrol met lig kokende water, roer aanhoudend tot dit gesmelt is en klits die strooisuiker by. Verhit intussen die wyn in ’n kastrolletjie, maar moenie kook nie. Haal sjokolademengsel van die plaat af en klits die wyn by. Laat die mengsel ’n paar minute afkoel tot dit verdik, terwyl jy nou en dan klits.
Om te glasuur: Plaas die koek op die afkoelrakkie bo-op ’n bakplaat om enige afloop-glasuur op te vang. Smeer die glasuur oor die koek se bokant en laat dit toe om effens oor die kant te drup. As die glasuur te dik is, voeg ’n paar druppels wyn by. Laat dit 2 uur staan sodat die mooi blink glasuur kan stol. Versier met brame net voor opdiening. Jy kan die koek tot twee dae voor die tyd maak. Verkoel dit, maar bedien dit teen kamertemperatuur en nie koud nie.
Yorumlar