Sjokolade-splinterkoekies
- Karla Janse van Vuuren
- May 22, 2015
- 1 min read

My vriendin die kosblogger Alida Ryder se eerste resepteboek, Heerlik & maklik, het verlede jaar verskyn en daarin is ’n resep vir die allerlekkerste sjokoladesplinterkoekies. Dit is bros en propvol sjokolade en op ’n spesiale dag soos Vadersdag kan ’n mens mos maar die dag met sjokolade begin. Bederf pa met koffie en dié koekies in die bed. Dit lewer omtrent 30 reuse-koekies of 60 kleiner koekies.
Jy het nodig:
. 250g sagte botter
. 200g ligte bruinsuiker
. 100g strooisuiker
. 2 eiers
. 1t vanieljegeursel
. 350g meel
. 1tkoeksoda
. 2ml sout
. 500g gekapte sjokolade (ek het die helfte melksjokolade en die helfte donkersjokolade gebruik)
Só maak ’n mens:
1.Voorverhit die oond tot 180°C en voer twee bakplate met bakpapier uit.
2.Klop die botter en suikers saam tot lig en donsig.
3.Voeg die eiers een vir een by en klop goed ná elke byvoeging.
4.Voeg die vanieljegeursel by en meng.
5.Sif die meel, koeksoda en sout by die mengsel en meng goed.
6.Vou die sjokoladesplinters in.
7.Skep lepelsvol (sowat 2e vol deeg per koekie) van die mengsel op die bakplate, sowat 5cm uitmekaar.
8.Plaas die bakplate in die oond en bak 10-15 minute tot goudbruin.
9.Verwyder uit die oond en laat die koekies op ’n draadrak heeltemal afkoel. Die koekies sal langer as ’n week in ’n lugdigte houer vars bly.
– Uit Heerlik & maklik: hartskos deur Alida Ryder. Die boek word deur Penguin uitgegee.
Foto: Gerrie Janse van Vuuren
Kommentare