Snoek met ’n Kaaps-Maleise aioli en patat-kriekettjips
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Genoeg vir 10.
Jy het nodig:
1 heel, gerookte snoek
2 suurlemoene
3 rooi rissies
250ml vars koljanderblare
100g botter
4 patats (afhangende van die grootte, maak seker jy koop genoeg vir tien mense)
1 liter olie, vir braai
Vir die aioli:
2 eiergele
5ml ontpitte tamaryn
5ml kerriepoeier (ons het ’n Kaap- Maleise mengsel gebruik met ’n ekstra knypie kaneel by)
die sap van 1 suurlemoen
1 knoffelhuisie
300ml kanola-olie
sout en peper
Slaai gemaak met bestanddele van jou keuse.
Só maak ’n mens:
1. Maak die snoek skoon en vlek die vis oop op ’n bakplaat. Voorverhit die oond by 200°C.
2. Smelt die botter en bestryk die snoek deeglik daarmee.
3. Sny die suurlemoen in skyfies en kap die rissies en koljander fyn. Pak dit dan op die vis. Geur met sout en peper na smaak.
Sit dit in die warm oond en bak 15-20 min.
4. Sny die patats in dun, lang stokkies en braai in warm olie (by 80°C) vir 10 min. of tot bros. Skep uit die olie en dreineer op kombuispapier. Sprinkel dadelik sout oor die tjips terwyl dit nog warm is, anders sal die sout nie daaraan kleef nie.
5. Maak die aioli deur die eiergele saam te klits met die tamaryn, kerriepoeier, suurlemoensap en knoffel tot gemeng. Giet die kanola-olie stadig by terwyl jy aanhou klits.
Geur met sout en peper. Proe en voeg nog knoffel, tamaryn of kerrie by na smaak.
6. Sit die aioli voor saam met die snoek en patattjips, sprinkel ekstra vars koljanderblare bo-oor alles. Sit ook voor saam met ’n groot slaai van jou keuse.
Comments