Soet-en-sout-grondboontjiebotterblokkies
- Karla Janse van Vuuren
- May 22, 2015
- 1 min read

As jou geliefde se hart vinniger klop aan die blote gedagte van grondboontjiebotter, moet jy dié resep beproef. Die pretzels gee ’n lekker bros byt aan die blokkies, en die sout breek die ergste soet.
Maak sowat 30 blokkies
Jy het nodig:
2½k gladde grondboontjiebotter
180g botter, teen kamertemperatuur
2k versiersuiker
4k pretzels, in stukkies gebreek
1½k sjokoladesplinters
Só maak ’n mens:
1. Voer ’n 20x30cm-bak uit met foelie en bespuit liggies met kleefwerende kossproei.
2. Meng 2 koppies van die grondboontjiebotter en die botter saam tot glad (jy kan ’n elektriese handklitser of ’n ballonklitser gebruik).
3. Klits die suiker bietjies-bietjies by tot glad.
4. Roer 3 koppies van die pretzels by en meng deeglik.
5. Druk die mengsel deeglik in die voorbereide pan vas en maak so glad moontlik bo-op.
6. Plaas die res van die grondboontjiebotter en die sjokoladesplinters in ’n mikrogolfbestande bak en mikrogolf vir 30 sekondes op ’n keer tot gesmelt. Roer tot glad.
7. Giet die gesmelte sjokolademengsel oor die grondboontjiemengsel in die bak en maak glad bo-op. Sprinkel die res van die pretzelstukkies bo-oor. Plaas vir minstens 3 uur in die yskas en sny dan in blokkies. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas vir tot vyf dae.
Valentynswenk: Pak die blokkies in ’n mooi geskenkboksie wat met waspapier uitgevoer is. Bind ’n rooi lint om en siedaar, ’n geskenk vir jou grondboontjiebotter-verslaafde!
Comments