Spesery-sagopoeding met gestoofde vrugte en dennepitkaramel
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Jy benodig:
Vir die gestoofde vrugte:
200g gemengde droë vrugte
50g ongesoute botter (25g vir die vrugte, 15g vir die sago en 10g vir die dennepitkaramel)
100ml gehalte brandewyn
300ml appelkoossap
3e bruinsuiker
Vir die sagopoeding:
1,5liter volroommelk
200ml sago
5 eiers
1vanieljepeul
2ml sout
100ml witsuiker
1ml kaneel
1ml gemengde speserye
Vir die dennepitkaramel:
125ml strooisuiker
80ml dennepitte, liggies gerooster
10ml vloeibare glukose
Glukose is beskikbaar by bakwinkels.
As jy dit nie in die hande kan kry nie, moenie jou bekommer nie – laat dit net uit die resep weg. Die resep sal steeds werk daarsonder. Die glukose sorg net vir ’n sagter tekstuur wanneer jy die karamel maak.
Só maak ’n mens:
1.Week die sago in koue water vir 30minute. Dreineer en spoel af met koue water (jy kan ook die sago oornag laat week of gedurende die dag terwyl jy by die werk is).
2.Om die dennepitkaramel te maak smelt die strooisuiker saam met die glukose oor lae hitte in ’n plat pan.
Moenie roer voordat die meeste van die suiker gesmelt het nie. Sodra die karamel ’n mooi goudbruin kleur het, verwyder van die hitte en roer 10g botter by, asook die dennepitte. Roer vinnig en skep uit op ’n silikonvel of kleefwerende bakpapier. Versprei die mengsel eweredig sodat ’n dun laag vorm. Laat hard word en breek dan in stukke met ’n koekroller.
3.Om die gestoofde vrugte te maak kap die gedroogde vrugte in happiegrootte stukkies. Plaas in ’n kastrol saam met 25g van die botter.
Soteer die vrugte sowat vyf minute. Voeg nou die brandewyn by en prut nog twee minute. As jy verkies om van die alkohol ontslae te raak, flambé die vrugte deur die alkohol aan die brand te steek met ’n lang vuurhoutjie nadat dit die ekstra twee minute geprut het (hou net die vuurhoutjie naby die kastrol en dit sal vlam vat).
Wees net baie versigtig en maak seker daar is genoeg ruimte in jou kombuis om dié stap veilig uit te voer. Voeg die appelkoossap by en prut totdat die vrugte sag is (sowat tien minute).
Roer die bruinsuiker by en prut oor hoë hitte vir ’n paar minute tot taai.
4.Om die sagopoeding te maak laat die melk opkook in ’n groot kastrol en voeg dan die sago by. Roer gereeld en kook oor lae hitte totdat die sago gaar en deursigtig is (daar moenie ’n wit kolletjie in die middel van die korrels wees nie). Dit sal sowat 30 minute neem. Verwyder dan van die hitte.
5.Klits die eiers, witsuiker, kaneel, gemengde speserye en sout saam.
Klits dit stadig by die poeding.
6.Voeg die botter en vanieljepeul by die sagopoeding en plaas terug op lae hitte. Sodra dit opkook, verwyder van die hitte en skep die vanieljepeul uit.
7.Skep die poeding in opdienbakkies en sit voor met die gestoofde vrugte en dennepitkaramel.
Foto: Seline van der Wat
Comments