Vars pasta met sampioene en witpeper
- Karla Janse van Vuuren
- May 22, 2015
- 1 min read

Hier is ’n eenvoudige manier om vars pasta voor te sit, maar dit is so lekker jy gaan beslis ’n tweede skeppie wil hê. Garneer dit met gekapte Italiaanse pietersielie. Die resep maak genoeg vir vier.
. 400g vars pasta (verkieslik tagliatelle)
. 250ml gerasperde parmesaan
. 62,5ml olyfolie
. 5ml witpeper
. 250g wit knopiesampioene
.Vars platblaar-pietersielie, fyngekap
So maak mens:
1. Kook die tagliatelle in ’n groot kastrol soutwater tot al dente. Dreineer, maar behou ’n bietjie van die water.
2. Vryf die sampioene versigtig skoon (moenie was nie) en sny in lekker dik skywe.
3. Verhit 30ml van die olyfolie in ’n groot pan en braai die sampioene oor hoë hitte tot mooi goudbruin. Skep uit die pan en hou eenkant.
4. Plaas die kaas in ’n groot mengbak en voeg die res van die olyfolie en die witpeper by. Skep ’n lepel of twee van die water waarin jy die pasta gekook het by en meng totdat ’n romerige mengsel vorm.
5. Voeg die gedreineerde pasta by die kaasmengsel en meng versigtig. Voeg die sampioene by en meng ook goed, maar oppas dat jy nie die pasta stukkend druk nie.
6. Skep in warm opdienbakke, sprinkel die pietersielie oor en sit dadelik voor.
– Resep verskaf deur die Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging (Samfa).
Comments