Wortelslaai met vars koljander, jogurt en ’n lemoenslaaisous.
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 1 min read

Ek loop in die kookboek Three Good Things on a Plate resep-idees raak wat die konyn-knaagdier in my wakker maak: Wortel. Jogurt. Vars koljanderblare.
’n Bossie jong geelwortels word net liggies geskrop (nie geskil nie) en sowat 6 minute in soutwater gekook, gedreineer en terwyl dit nog warm is, op die slaaibord uitgepak en met ’n slaaisous van olyfolie en lemoensap en -skil besprinkel (met droë rissievlokkies by vir die sweepslag).
Bedot dit hier en daar met lepels dik, natuurlike jogurt en rangskik lossies ’n bossie vars koljander, stingel en al, oor. Giet nog ’n bietjie olyfolie oor. Sout en peper, wel. Oros, nee!
As jou bossie wortels al tieners eerder as babagroente is, kan jy geurigheid en tekstuur van geroosterde amandels en komynsade inspan. Vir hierdie slaai-cum-bykos kook die wortels 8 tot 10 minute tot net-sag en dreineer. Rooster 100g heel, gepelde amandels (amandels sonder die skilletjie) in ’n droë pan oor matige hitte totdat dit goudbruin is. Rooster ’n eetlepel komynsade in dieselfde pan totdat die geur ontwikkel.
Gooi die sade by die amandel en stamp effe fyn. Pak die wortels op ’n plat bord uit, strooi die amandel-komynmengsel oor, gevolg deur sout, peper en ’n stewige skeut olyfolie. Vir ’n soet noot en ekstra blieng gooi ek ook ’n handvol goue sultanas oor.
Comments