Boerwors sousbonanza
- Karla Janse Van Vuuren
- May 22, 2015
- 3 min read

Vergeet van tamatiesous uit ’n bottel en maak jou eie sous vir boereworsrolle.
1. Tamatie-en-uiesmoor
Dis ’n klassieke pasmaat vir ’n boereworsrol. Dit lewer genoeg sous vir minstens 6 boereworsrolle.
Jy benodig:
.10ml olyfolie
.1 groot ui, fyngekap
.2 knoffelhuisies, fyngekap
.3lekker ryp rooi tamaties
.gemengde kruie, na smaak
.7,5ml bruinsuiker
.sout en peper na smaak
So maak mens:
1.Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie tot deurskynend. Voeg die knoffel by en braai nog ’n minuut of twee.
2.Terwyl die uie braai, sny kruisies bo en onder op die tamaties en dompel hulle in kookwater en laat ’n paar minute staan. Gooi die water af en spoel af in koue water. Trek die skille af en kap die tamaties in blokkies. Voeg die tamaties by die uie en roerbraai ’n paar minute lank.
3.Geur die sous met die kruie, suiker, sout en peper. Verlaag die hitte en laat sowat 20 minute stadig prut, roer elke nou en dan. Die sous moet amper “konfyterig” wees. Jy kan dit ook langer prut sodat die tamaties nog sagter kook, indien verkies.
xxx
2. Sampioen-en-brandewynsous
Brandewyn gee dié sous ’n bietjie skop en die beleë cheddar gee dit ’n lekker smaak. Jy kan ook bloukaas of feta gebruik. Genoeg sous vir 2-3 rolle.
Jy benodig:
.50g botter
.125g knopiesampioene, skoon gevee en in skyfies gesny
.25ml brandewyn
.1-2e meel
.sowat 200ml volroommelk
.100g beleë cheddar, gerasper
.vars tiemie, na smaak
.sout en peper
So maak mens:
1.Smelt die botter in ’n pan. Voeg die sampioene by en roer totdat dit begin sag word.
2.Voeg die brandewyn by en roer vir ’n minuut of twee.
3.Sprinkel die meel oor – net genoeg om deur die vloeistof in die pan geabsorbeer te word. Roer sowat ’n minuut lank.
4.Voeg die melk geleidelik by om ’n dik sous te vorm.
5.Sprinkel die kaas oor en roer tot gesmelt. Geur na smaak met tiemie en sout en peper. Hou die sous warm tot benodig.
xxx
3. Guacamole en tamatiepesto
Dié is ’n boereworsrol met ’n Mexikaanse kinkel. Maak die guacamole vars en eet dit dadelik. Dit maak genoeg vir sowat 2-3 boereworsrolle.
Jy benodig:
.1 groot ryp avokadopeer, geskil en in blokkies gesny
.die sap van ’n halwe suurlemoen
.¼rooi ui, baie fyn gekap
.½ryp rooi tamatie, ontpit en baie fyn gekap
.vars koljanderblare, na smaak, gekap
.sout en peper
.tamatiepesto, na smaak (Ek het dié van Mediterranean Delicacies gebruik.)
So maak mens:
1.Druk die avokado met ’n vurk fyn en voeg die suurlemoensap by.
2.Voeg die ui, tamatie en koljanderblare by en geur na smaak met sout en peper.
3.Maak die boerie: Smeer elke broodjie met die pesto – smeer dit so dik of dun soos jy daarvan hou. Sit die boerewors in die rolletjie en vul met die guacamole.
xxx
4. Monkeygland-sous
Dié sous is ’n heerlike pasmaat vir boerewors. Die resep maak sowat 375ml en dit kan twee weke lank in die yskas gehou word. Jy kan dit ook vries.
Jy benodig:
. 1 groot ui, fyngekap
. 4 knoffelhuisies, fyngekap
. 1e vars gemmer, fyngekap
. 3-4e olie
. ½k blatjang
. ½k tamatiepuree
. 1e sojasous
. 2e matige mosterd
. 2e Worcestersous
. 3e tamatiesous
. 5e port of muskadel
. 80ml vleisaftreksel
. 2e rooiwyn
. sout en swartpeper na smaak
So maak mens:
1.Braai die uie, knoffel en gemmer in die olie tot die uie deurskynend is.
2. Voeg die res van die bestanddele by en laat kook oor taamlik hoë hitte vir sowat 10 minute. Roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie. Jy kan dit ook ’n bietjie langer laat kook as jy dit dikker wil hê.
3.Proe en geur na smaak. Jy kan dalk ½t suiker, sout en varsgemaalde swartpeper byvoeg om die smaak aan te pas.
– Aangepas van ’n resep op www.food.com.
xxx
5. Mosterdsous met balsamiese uie
Dié koue, romerige mosterdsous werk heerlik saam met die warm boerewors en soetsuur uie. Dit maak genoeg vir 2-3 boereworsrolle.
Jy benodig:
Vir die mosterdsous:
.2e Dijon-mosterd
.2e mayonnaise
.2e ongegeurde dubbelroom-jogurt
Vir die uie:
.1e olyfolie
.1 groot ui, in dun skyfies gesny
.2,5ml sout
.sowat 2e balsamiese asyn, of na smaak
So maak mens:
1.Meng die mosterd, mayonnaise en jogurt deeglik en bêre in die yskas tot benodig.
2.Verhit die olyfolie in ’n pan en voeg die uie by. Roerbraai tot dit begin sag word.
3.Voeg die sout by en roer nog ’n rukkie.
4.Voeg die asyn by en roer sodat dit die uie deeglik bedek. Verlaag die hitte en braai sowat 10minute totdat die uie baie sag is. Roer gereeld sodat dit nie brand nie. Hou die uie warm tot benodig.
5.Maak die boerie: Sit die warm wors in die rolletjie, drup die mosterdsous oor en vul met die uie, na smaak.
xxx
Foto's: Gerrie Janse Van Vuuren
Comments