Koffie-en-sjokolade-meringuetorte
- The Rainbow Team
- May 22, 2015
- 2 min read

Jy benodig:
Basis:
. 125g sagte botter
. 80ml suiker
. 1 ekstragroot eier
. 5ml vanieljegeursel
. 375ml koekmeel
. 10ml bakpoeier
. 1ml sout
Meringue:
. 4 ekstragroot eierwitte
. 1ml sout
. 2ml kremetart
. 250ml strooisuiker
. 3ml vanieljegeursel
. 3ml bakpoeier
. 125ml pekanneute, grofgekap
Vulsel:
. 375ml melk
. 30ml koekmeel
. 30ml kakao
. 15ml kitskoffiekorrels
. 3 ekstragroot eiergele
. 60ml strooisuiker
. 125ml vars room, geklop
. kakao, vir bestuif
Só maak mens:
1. Maak die basis: Klop die botter en suiker saam tot romerig. Voeg eier by en klop goed tot lig en romerig. Voeg geursel by.
2. Sif meel, bakpoeier en sout saam. Voeg by die romerige mengsel en meng goed. Verdeel die deeg in die helfte. Druk in twee gesmeerde, ronde 20cm-koekpanne. Bak 10-15 minute in ’n voorverhitte oond teen 180°C. Keer op ’n draadrak uit en laat heeltemal afkoel.
3. Maak die meringue:
Klop eierwitte tot skuimerig. Voeg sout en kremetart by. Voeg suiker geleidelik by en hou aan klop tot stywepuntstadium. Gebruik ’n metaallepel en vou geursel, bakpoeier en neute versigtig in.
4. Skep meringuemengsel in twee gesmeerde, ronde 20cm-koekpanne en bak 25-30 minute in ’n voorverhitte oond teen 180°C. Laat ’n paar minute in die panne staan en keer dan op ’n draadrak uit om heeltemal af te koel.
5. Vulsel: Verhit melk in ’n medium-swaarboomkastrol. Sif meel, kakao en koffie saam. Voeg eiergele en suiker by en klits goed. Voeg ’n bietjie warm melk by die eiermengsel, meng goed en giet terug in kastrol. Kook ’n paar minute tot dik, klop aanhoudend om te verhoed dat klonte vorm. Verwyder van hitte en laat heeltemal afkoel.
6. Gebruik ’n metaallepel en vou geklopte room in. Wissel lae basis en meringue af en smeer vulsel tussenin. Verkoel tot effens geset. Bestuif met kakao.
Wenk: Die koek moet op dieselfde dag nog geëet word, anders sal dit pap word as dit te lank staan.
– Die resep kom uit Die uitsonderlike Snowflake-versameling deur Heilie Pienaar. Die boek word deur Random House Struik uitgegee en kos R180 by boekwinkels landwyd.
Foto: Michael la Grange
Comments