Volstruis-frikkadelle met peppadew-salsa
- Karla Janse van Vuuren
- May 22, 2015
- 1 min read

Gee tradisionele frikkadelle ’n spesiale Suid-Afrikaanse kinkel deur volstruismaalvleis te gebruik – dit is boonop gesonder as beesvleis en as ’n mens 86 is en ’n land het om te regeer moet jy mooi na jou hart omsien. Peppadews is eg aan eie bodem en dié salsa laat die frikkadelle skop soos ’n, wel, volstruis.
Jy het nodig:
. 500g maer volstruismaalvleis
. 5ml gemmer
. 5ml komyn
. 5ml koljander
. 5ml kaneel
. 2 knoffelhuisies, fyngekap
. ½ rooi ui, fyngekap
. 1 groot eier
. 25ml broodkrummels
. sout, na smaak
. olyfolie
Peppadew-salsa
. 100ml peppadews, gekap
. ½ rooi ui, gekap
. ’n handvol vars koljander, gekap
. ’n bietjie witwyn-asyn
. sout en varsgemaalde swartpeper
Só maak mens:
1. Voorverhit die oond tot 180°C.
2. Meng al die bestanddele vir die frikkadelle (behalwe die olie) deeglik saam, vorm die frikkadelle (omtrent so groot soos ’n tafeltennisballetjie) en pak dit op ’n gesmeerde bakplaat.
3. Drup olyfolie oor die frikkadelle en bak vir 10 minute. Draai die frikkadelle om en bak vir nog 10 minute of tot deurgaar. Laat afkoel, garneer met kersietamaties en sit voor saam met die salsa.
4. Maak die salsa: Meng al die bestanddele saam, proe en geur na smaak. Jy kan meer of minder van elke bestanddeel byvoeg totdat die salsa jou smaakkliere kielie.
Foto: Gerrie Janse Van Vuuren
Comentarios