Calzone met wors-en-groente-vulsel
- Huisgenoot
- Jun 23, 2015
- 2 min read

Wanneer jy eendag nie te besig is nie, kap oorskietgroente op en vou dit in deeg toe vir ’n smaaklike maaltyd wat almal sal geniet.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 55 min.
Deeg
1 L (4 k) meel
’n knippie sout
10 g droë gis
7 ml (1½ t) strooisuiker
30 ml (2 e) olyfolie
375 ml (1½ k) louwarm water
Vulsel
50 g botter
15 ml (1 e) meel
250 ml (1 k) melk
250 ml (1 k) cheddarkaas
2,5 ml (½ t) mosterdpoeier
sout en peper na smaak
400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
100 g sampioene
500 g Russiese wors, in skywe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
sap van 2 lemmetjies
5 ml (1 t) borrie
5 ml (1 t) fyn komyn
Deeg: Sif die meel en sout in ’n groot mengbak en maak ’n holte in die middel. Meng die gis, suiker en olyfolie met die water in ’n beker. Sit eenkant 10 min. of tot borrels op die mengsel se oppervlak verskyn.
Meng die meelmengsel geleidelik in en voeg nog meel by as die deeg te klewerig raak.
Plaas die deeg op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie 10 min. of tot rekbaar. Sit die deeg in ’n groot bak wat liggies geolie is, bedek en sit op ’n warm plek 1 uur of tot die grootte verdubbel het.
Vulsel: Verhit 20 g van die botter in ’n potjie, voeg die meel by en kook 1 min. Voeg die melk stadig by terwyl jy roer. Kook 5 min. terwyl jy aanhoudend roer. Voeg die kaas, mosterd, sout en peper by; roer en sit eenkant.
Plaas die botterskorsie op ’n roosterpan, voeg 10 g botter by, geur met die sout en peper, mengel deur en rooster 20 min. of tot sag. Sit eenkant.
Voeg die oorblywende botter in ’n kastrol oor matige hitte en braai die sampioene en wors tot gaar. Voeg die knoffel, lemmetjiesap, borrie en komyn by en geur. Sit eenkant. Meng die groente en kaassous liggies in ’n bak. Sit eenkant om af te koel.
Knie die deeg af. Verdeel in drie en rol elke stuk in ’n sirkel op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Skep die vulsel op die helfte van die sirkel, vou die sirkel oor en draai om te verseël.
Pak die calzones op ’n bakpan en bak 30 min. of tot goudbruin.
Deur Hope Malau
Foto: Misha Jordaan
Comments