HEEL GEBAKTE PAMPOEN
- Lekker Resepte vir Jagters en Boere
- Jun 27, 2015
- 1 min read

Hierdie is nou 'n staatmaker vir wanneer jy 'n klompie mense moet kosgee. En 'n lekker idee as jy weer iets na 'n braai moet saambring.
Genoeg vir: 8 porsies
• 1 heel boerpampoen
• 30ml botter
• 1 groot ui, gekap
• 6 swoerdlose spekvleisrepe, gekap
• 750ml vars witbroodkrummels
• 2 knoffelhuisies, gekneus
• 30ml vars salieblare
• 500ml gerasperde beleë cheddar- of emmentalerkaas
• 250ml room
Voorverhit die oond of swartpot oor matige hitte.
Gebruik 'n skerp mes en sny die bokant van die pampoen af (dit vorm later 'n deksel).
Skraap die pitte en drade aan die binnekant van die pampoen uit.
Smelt die botter in 'n groot braaipan oor matige hitte.
Soteer die ui tot sag.
Skep uit en braai die spekvleis tot bros.
Skep die ui terug in die kastrol en voeg ook die broodkrummels en knoffel by.
Roer totdat die broodkrummels goed deurgemeng is.
Voeg die salie by en geur met sout en swartpeper.
Roer die kaas by.
Skep die vulsel in die pampoen.
Plaas 'n vel aluminiumfoelie wat met olie gesmeer is in 'n oondpan.
Plaas die pampoen op die aluminiumfoelie en giet die room oor die vulsel in die pampoen.
Gooi stadig sodat die room geabsorbeer kan word.
Plaas die pampoendeksel op die pampoen en draai dan die pampoen in die aluminiumfoelie toe.
Sit die pampoen in die oond en bak dit sowat 2 uur of tot sag.
Toets met 'n toetspen.
Maak die pampoen oop, sny in skywe en sit voor as 'n bygereg saam met geroosterde vleis.
Comments