LEMOENROLLETJIE KONFYT
- Hoe maak ek
- Jul 23, 2015
- 1 min read

Vir diegene wat al gesukkel het met konfyt of ingelegde vrugte wat sandsuiker geword het. Die geheim is dat die suiker heeltemal opgelos moet wees voordat die stroop begin kook.
LEMOENROLLETJIE KONFYT
1 kg lemoenskille, gewas
1 kg suiker
6 k water
sap van 2 suurlemoene
gesteriliseerde bottel
Rasper die lemoene liggies om die olieselletjies te breek. Skil dan af deur eers die boonste sirkel en dan die onderste sirkel af te sny. Sny die lemoenskil in 4 lang repe aan die kante, net-net deur die vel, en skil versigtig af. Bedek nou die skille met koue water en kook tot sag. Toets deur ʼn vuurhoutjie in die skille te druk, as dit maklik deurkom, is dit reg. Dreineer, los om af te koel en sny of knip die lemoenstroke in smaller stroke. Rol elke strokie op en steek vas met ʼn tandestokkie.
Los nou die suiker in die water op en bring tot kookpunt. Plaas die opgerolde lemoenstroke in die stroop. Kook totdat die stroop dik is en die vrugte deurskynend is. (Maak nog stroop en voeg by indien nodig). Haal van die stoof af en roer die suurlemoensap by.
Bottel soos volg: haal lemoenskil uit stroop en verwyder tandestokkies. Pak in gesteriliseerde flesse van jou keuse. Gooi kokende stroop oor gerolde skil tot bottel vol is, draai stewig toe en draai fles onderste-bo. Bottels kan nou afkoel, afgevee en weggepak word.
Maak een 500ml bottel.
Comments