Tex-Mex
- The Rainbow Team
- Jul 24, 2015
- 2 min read

Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 5 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute
Mexikaanse boontjies
• 20 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 selderystele, gekap
• 1 middelslag-wortel, gekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 rissie, pitte verwyder en fyngekap (opsioneel)
• 5 ml fyn komyn
• 5 ml fyn koljander
• 3 ml fyn kaneel
• 1 groen soetrissie, pitte verwyder en in klein blokkies gesny
• 1 blik gekapte tamaties
• 15 ml tamatiepasta
• 1 blik gemengde boontjies, afgespoel en gedreineer
• 1 blik nierboontjies, afgespoel en gedreineer
• 3 sprietuie, fyn gesny
• 30 ml vars koljander
• tortillas of tacos, om voor te sit
• suurroom, gerasperde wit cheddar, vars avokado en geroosterdetamatie-salsa om voor te sit
1 Verhit die olyfolie en braai die ui, seldery, wortel, knoffel en rissie vir ’n paar minute tot dit sag is.
2 Voeg die speserye en groen soetrissie by, braai dit vir ’n minuut en voeg dan die tamaties en tamatiepasta by. Sit die deksel op en laat dit vir 10 minute prut voor jy die boontjies bygooi en dit nog 15 minute laat prut. Voeg ’n bietjie water by indien die mengsel te droog word.
3 Geur die mengsel met sout en varsgemaalde swartpeper en roer dan die sprietuie en vars koljander by. Sit dit voor op ’n tortilla of taco saam met suurroom, gerasperde kaas, blokkies avokado en salsa.
Geroosterde tamatie-salsa
Maak: omtrent 400 ml
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: rooster
• 4 ryp tamaties
• 1 rooi soetrissie
• 1-2 rooi brandrissies
• 1 klein ui, met skil en al in kwarte gesny
• 25 ml olyfolie
• 2 knoffelhuisies
• 5 ml fyn komyn
• 2,5 ml droë origanum
• 2,5 ml gerookte paprika
• 1 ml rissievlokkies
• 5 ml kakaopoeier
• 5 ml asyn
1 Pak die tamaties, soetrissie, rissie en ui op ’n bakplaat en rooster dit tot die skil van die tamatie en soetrissie swart blase maak. Draai dit halfpad deur die proses om.
2 Verwyder die gebrande skil en pitte, gooi dit weg en sit die res in ’n bak.
3 Verhit die olyfolie in ’n kastrol en braai die knoffel en speserye vir ’n minuut voor jy die orige bestanddele byvoeg. Maak dit fyn met ’n handversapper of voedselverwerker. Geur dit na smaak en sit dit voor as ’n geurige bykos.
Comments