Beste Hamburger In Suid-Afrika.
- Anneke Potgieter
- Jul 27, 2015
- 2 min read

Ek hou daarvan om my eie weergawes van ou gunstelinge uit te dink, en het verlede jaar oor die Kersvakansie op Keurboomstrand besluit om die immergewilde hamburger aan te pak. Die heerlike son-en-see-vakansie het my herinner aan die vars, eenvoudige geure van Mediterreense kos – vandaar die tzatziki, eiervrug en songedroogde tamaties. Na regte moet die patties buite oor die kole gaargemaak word vir daardie lekker braaigeur, maar dit behoort ook lekker te wees in die pan as die winterkoue ons laat terugverlang na die somer. Die resep lewer 10 hamburgers. – Anneke Potgieter
Anneke se Mediterreense hamburger-resep
Patties
Varkvleis hou die patties lekker sappig.
500 g gemaalde maer varkvleis
500 g gemaalde maer beesvleis
2 eiers, geklits
2 snye witbrood, gekrummel
2 groot knoffelhuisies, fyngekap
10 ml rooi brandrissiepasta (of so 3 fyngekapte vars brandrissies)
gerasperde skil van 1 suurlemoen
sap van ½ suurlemoen
groot hand vol vars koljanderblare, grofgekap
10 ml fyn komyn, drooggebraai vir ekstra geur
10 ml koljandersaad, effens fyngemaak met ’n stamper en vysel
5 ml growwe sout
5 ml grofgemaalde swartpeper
Meng al die bestanddele saam. Smeer jou hande met olyfolie. Verdeel die mengsel in 10 stukke en vorm patties so groot soos jou handpalm. Plaas die patties vir minstens 2 uur op ’n gesmeerde bakplaat in die yskas sodat die geur kan ontwikkel.
Tzatziki
1 komkommer, gerasper
150 ml Bulgaarse jogurt
1 groot knoffelhuisie, fyngekap
15 ml vars kruisement, fyngekap
sout en grofgemaalde peper na smaak
Pers die gerasperde komkommer met jou hande saam oor die wasbak sodat al die oortollige sap afloop. Meng met die ander bestanddele en hou verkoel.
EKSTRA BYKOMSTIGHEDE
vars slaaiblare van jou keuse
125 ml songedroogde tamaties in olie, grofgekap (ek verkies Ina Paarman s’n)
1 eiervrug, in dik skywe gesny, met olyfolie geverf, gegeur met sout en peper en in ’n riffelpan gebraai tot sag
½ rooi-ui, in dun ringetjies gesny
10 gebotterde baps (sagte, wit rolletjies met ’n fyn poeierlagie meel)
Verf ’n braairooster goed met olyfolie. Braai patties so 10 minute oor warm kole tot gaar, maar nog lekker sappig. Pak intussen ’n paar slaaiblare, ’n lepel vol songedroogde tamatie, ’n skyf geroosterde eiervrug en ’n paar uieringetjies op elke bap. Plaas ’n warm patty bo-op, gevolg deur ’n lekker groot lepel vol tzatziki. Sit dadelik voor
Comments