KERRIE SKAAPTJOPS
- Antoinette
- Jul 28, 2015
- 1 min read

Karringmelk-marinade
250 ml karringmelk
50 ml sonneblomolie of knoffelolie
2 gekneusde, geskilde knoffelhuisies
4 suurlemoenblare, gekneus, of pangeskroeide lourierblare
2,5 ml komynsade
5 ml fyn koljander
Kerriesous
5 swart peperkorrels, gekneus
2 lourierblare, gekneus
2 naeltjies, gekneus
1 kaneelstokkie
3 middelslag uie, fyngekap
30 ml kookolie
30 ml botter
3 knoffelhuisies, geskil en gekneus
15 ml gekapte gemmer
15 ml matige kerriepoeier
5 ml borrie
30 ml appelkooskonfyt
30 ml tamarinde-pasta
375 ml wit asyn
Meng die bestanddele vir die karringmelk-marinade in ‘n groot Ziplock-sakkie.
Plaas vleis in die marinade, verseël en marineer oornag in die yskas op ‘n bord of in ‘n bak.
Berei die kerriesous en laat oornag afkoel terwyl die vleis in die karringmelk-marinade marineer.
Skroei peperkorrels, lourierblare, naeltjies en kaneel in ‘n swaarboompan.
Soteer gekapte ui in verhitte olie en botter.
Voeg dan kerrie en gemmer by en braai vir ‘n minuut of twee.
Voeg laastens die konfyt, tamarinde-pasta, asyn en geskroeide speserye by en prut vir ‘n paar minute.
Laat heeltemal afkoel oornag.
Marineer effens gedreineerde vleis in kerriesous vir 1 – 2 dae in ‘n groot Ziplock-sakkie in die yskas.
Rooster vleis (wat by kamertevleismperatuur moet wees) vir die beste resultate oor koel kole vir 20 minute of tot gaar na smaak (die kole is koel as jy jou hand vir 4 – 5 sekondes 12 tot 15 cm bo die kole kan hou).
Geur met sout 5 minute voor einde van gaarmaaktyd.
Syg die marinade deur en verdik met ‘n mielieblom-en-waterpasta (20 – 30 ml mielieblom).
Sit voor saam met die tjoppies.
Comments