Soet-en-taai-hoenderpotjie
- The Rainbow Team
- Jul 28, 2015
- 2 min read


’n Heerlike (en maklike) soet-en-taai hoenderpotjie wat jy die naweek kan beproef. Foto: @JanBraai
Jy benodig (vir 4 mense):
■ 8 hoenderstukke (4 dye en 4 boudjies, sonder die vel)
■ 25 ml meel
■ 25 ml olie of botter
■ 1 ui (gesny of opgekap)
■ 2 knoffelhuisies (opgekap of gekneus)
■ ½ koppie blatjang
■ ½ koppie tamatiesous
■ ½ koppie mayonnaise
■ ½ koppie water
■ 25 ml sojasous
Laat waai!
1. As jou hoenderstukke vel aan het, trek dit af en raak ontslae daarvan. Die slim of lui braaier sal sommer hoenderstukke koop wat reeds sonder vel is.
2. Bestrooi die hoenderstukke met die meel.
3. Verhit die botter in jou potjie en braai die ui totdat hy net begin kleur kry – ’n minuut of drie.
4. Voeg nou die hoender en knoffel by en braai ’n paar minute totdat die hoenderstukke ’n bietjie persoonlikheid kry. “Persoonlikheid” beteken in hierdie geval hulle moet hier en daar begin verbruin.
5. Gooi die blatjang, tamatiesous, mayonnaise, water en sojasous een vir een by en wikkel die hoenderstukke ’n bietjie
6. Sit die deksel op en kook 30 tot 40 minute totdat die hoender deurgaar is. Jy wil medium hitte hê met ’n klompie kole onder die potjie om hom te laat prut. Hy moet nie wild kook nie, maar jy het meer as die skaars borrels van ’n beesstertpotjie nodig.
7. Loer elke nou en dan na die vloeistofvlak in die potjie en krap met jou houtlepel teen die bodem om te toets of dit begin droog raak. As dit die geval is, gooi ’n bietjie water by en roer liggies om te keer dat ’n rebelse stuk hoender onder aan die potjie vasbrand.
8. Nadat dit omtrent 30 minute so rustig geprut het, behoort die hoenderstukke deurgaar te wees en sal hulle van die been afkom as jy hulle met ’n vurk steek. Haal die deksel af en gee die oortollige vloeistof kans om weg te kook. Met ander woorde, laat die sous verdik totdat dit ’n lekker taai tekstuur het. Die meel sal daarmee help. Al wat jy hoef te doen is om die gereg rustig verder te laat prut totdat jy voel die sous is net reg en dik genoeg na jou smaak.
9. Opsionele stap: Die mayonnaise sit nogal ’n bietjie olie in die gereg. In die laaste minute van die proses, as dit jou pla en daar te veel van die olie op die oppervlak ronddryf, kan jy met ’n lepel die oortollige olie van die gereg afskep. Dit is nie verpligtend nie, en as hierdie stap te moeilik klink, ignoreer dit net.
10. Wanneer die sous vir jou reg lyk en jy tevrede is dat dit dik genoeg is, is dit tyd om op te skep.
Comments