Moenie die forel opsmuk nie
- Beeld
- Jul 29, 2015
- 2 min read

Forel soos Beeld se Kok in die Sop hom gaarmaak, kan mos nie anders as hemels lekker wees nie.
Só beskryf Lochner de Kock sy ervaring saam met kokmaat Braam Kruger op hul foreluitstappie:
Daar is verskeie resepte vir forelle, maar ek hou van 'n onopgesmukte vis. Sy smaak is so uniek dat 'n mens nie te veel met hom moet bodder nie.
Ons twee visse was albei ``hane''. Die Engelse sê ``hen and cock'', dus sê ons ``haan en hen''. Jy ken hulle uitmekaar aan die grootte van hul onderkake: die hen se onderbek steek so vorentoe soos jou skoonma s'n toe sy nog vermoed het jy gaan haar dogter korrupeer.
Hier is (min of meer) hoe Braam die twee ``hane'' voorberei het. Die drieponder (myne) het hy met 'n kwartpond botterstuk gestop, die sous van 'n suurlemoen bo-oor en binne-in uitgedruk en 'n handvol pietersielie en sout en peper daaroor uitgestrooi en dit toe in foelie toegedraai.
Die drie-plus-ponder (syne!) olyfolie binne-in en bo-op, 'n eetlepel of twee balsamiese asyn en 'n handvol vars tiemie. Sout en peper. Albei mooi toegedraai (losserig sodat hulle binne die pakkies kan stoom) en in 'n warm oond (seker so 180 grade C) vir 20 minute gebak.
Saam met slaai van repies jong turksvyblare (ge-ontdoring en vinnig geblansjeer) en vars perdeblomblare wat ons in 'n dennewoud gepluk het, met 'n olyfolie en balsamiese asyn, het ons die forelle eer aangedoen!
En hier's 'n ander beroemde kok se resep vir heerlike forel Jamie Olivier, beter bekend as The Naked Chef. Sy resep kom uit sy boek met hierdie titel.
Gebraaide forel met tiemie:
Genoeg vir vier
4 x 455 g forelle, ontskub, met ingewande uit
2 x groot handevol vars tiemie, gepluk
Maldon-sout en vars gemaalde swartpeper
3 x eetlepels olyfolie
2 x suurlemoene
4 x lourierblare, vars
Verhit jou oond tot sy hoogste temperatuur. Was die forel buite en binne en druk droog met rolpapier. Stamp die tiemie saam met 'n teelepel Maldon-sout fyn en meng met olyfolie. Vryf dié mengsel oor die vis en die geursel in die maagholte en oor die vel.
Sny die suurlemoene in die helfte en die ente weg sodat dit plat is daar. Maak nou met die punt van 'n mes 'n snit in die vlesigheidjie van elke helfte en druk 'n lourierblaar daarin.
Sit die forelle en die suurlemoene op 'n braaiplaat en bak dit in die oond vir om en by tien minute.
As jy wil weet of die vis gaar is, neem die dikste deel van die visfillet en probeer die vleis van die graat wegtrek. As dit maklik wegkom, is dit gaar. Kom dit nie, bak vir nog so 'n paar minute.
Teen die tyd dat die forel gaar is behoort die vel lekker krakerig te wees. Die gebraaide suurlemoene is dan ook al heerlik soet met 'n effense konfytgeur dis die ideale manier om suurlemoene te kook omdat die lourierblare se geur behoorlik ingetrek het.
Bedien die forel met suurlemoen wat jy oor die vis kan uitdruk as jy wil.
My gunstelingbykosse is ge-sautéde aartappels en 'n vars groenslaai.
Resep en foto uit Jamie Oliver, The Naked Chef. Michael Joseph.
Comments