Hoe bak jy ‘n skaaprib in die oond, die geheim van braai is ook by
- Niël Stemmet
- Aug 3, 2015
- 2 min read

Foto: Dries Von Weidtz
Niel Stemmet skryf: (sic) "kyk as dit by rib kom het elke man sy eie idee van hoe hy hom op die lekkeste manier gaan en kan gaarmaak
die geneuk is dat jy vandag ver moet soek om ‘n ordentlike rib te kry, ek stap van slagter tot slagter en vra ‘n rib met ‘n lekker laag vet, maar deesdae kry jy nie skaap nie en die lammers wat jy kry is so jonk geslag dat die vet, bloot ‘n gedagte is
ewenwel
ek het ‘n vriend gehad, jopie botes, in die kalahari, jopie was ‘n kneuwel van ‘n man en ook ‘n man vir die veld, sy mond kon jou stories vertel terwyl sy oë ver die vuur inkyk. nou jopie het sy rib so gemaak : [ die rib het eers die vorige nag al buite gehang om goed droog te raak ] hy het hom op sy manier gesout en gegeur dan laat-maak-staan hy die rib teen 45 C so skuins teen die vuur in ‘n rooster met die ribbes na die vuur en dan braai jy stadig die vet uit hom uit – later draai jy hom om en dan gee jy weer die vetkant vuur – , so braai jopie vir ure – later is jy al agter jouself gekuier , maar jopie se rib braai steeds
einde ten laaste is daar geeët teen die rooi sandduin, nugter kan onthou wat jy saam met die rib geeët het – seker brood – en dan as die maan al hoog sit en die jakkalse begin tjank, dan het jopie sy pad gestap en onder weg van ons sy lê gaan kry vir die nag – rede is die man sou ‘n leeu wakker snork
in die stilte van die kalahari-nag het ek gelê en verwonderd die hemel beskou, as ek my hande uit die slaapsak sou haal , sou ek sekerlik ‘n paar sterre kon pluk om in my broeksak te hou
nou dat ek by die see bly – bak ek my rib
jy kry die vetste rib wat jy kan kry en vra jou slagter om hom te knak en die vet diamante in te sny. gooi dan koljandersaad, growwe sout en wit peper in ‘n vysel en maak dit goed fyn met die stamper, vat dan die geurgoed en vryf die rib ordentlik in
plaas die rib op ‘n oondrak bo-oor ‘n vleisbak en bak hom teen 140C vir ure , of solank jy ook al kan uithou – 3 ure minimum – die vet moet bros en bruingeel wees, die vleis na biltong neig, jy het nie ‘n mes nodig vir die nie, jy breek hom met jou vingers
vat jou rib, en ‘n jammerlappie, gaan sit eenkant onder ‘n boom, gooi vir jou ‘n glas steenwyn, seën die skaap en sy lewe, ook jou hande en eet die eet van ‘n bidspringkaan – in stilte.
n.s. tuisgebakte witbrood met botter en snipper-perskekonfyt is die heel beste bykos en na die tyd gellings moerkoffie om die vet te verwure"
Comments