VISBLITZPOT
- Gert Peens
- Aug 4, 2015
- 1 min read

Hier word 'n ander tegniek ingespan, naamlik meer hitte en minder tyd.
2 fyngekapte uie
1-1.2kg vars ferm vis (geelbek, koningklip, geelstert)
4 fyngekapte knoffelhuisies
3 blikke tamaties, in fyn stukkies gesny
185ml olyfolie
5ml gedroogde vinkel
skil van halwe lemoen, uitgedroog in klein stukkies
hand vol vars, gekapte pietersielie
2 knippies saffraan
Kry jou pot, vuur en gaste in orde, want dié gereg is binne 20 minute gereed. Maak pot lekker warm, gooi 'n leksel van die olyfolie in die warm pot en braai jou uie tot hul deurskynend is. Sny vis in eetlepel grootte blokkies. Plaas pot nou op 'n goeie hoop warm kole en, glo dit of nie, gooi al die bestanddele behalwe pietersielie en saffraan in die pot. Roer vinnig deur, want die olyfolie is die bindmiddel waarin alles gaan kook -- geen wyn of suurlemoensap wat die olie se effek gaan breek nie. Wanneer die pot goed begin borrel, plaas jy die deksel op, gee dit 12 tot 15 minute, sprinkel pietersielie en saffraan oor als en skep in sopborde. Lekker met rys, maar veral lekker op dik snye roosterbrood.
Comentarios