WATERTAND HOENDERPOT
- Gert Peens
- Aug 4, 2015
- 2 min read

1-2 hoender brediepakke
6-8 aartappels
1 soetrissie
2 tamaties
3 uie 8 wortels (medium tot groot)
3 groot patats
1 pakkie vars baba-murgpampoentjies
1 pakkie vars knopie-sampioene
1 blik (350 g) ingelegde pynappestukke
sout en peper na smaak
12.5ml gemengde kruie
12.5ml knoffelvlokkies
12.5ml gemengde speserye
1 pakkie wit uiesoppoeier
250 ml Coca-Cola
50 g margarien
Gebruik verkieslik 'n nommer 3-driepootpotjie. Was die groente en vleis deeglik onder lopende koue water. Ontpit die soetrissie en sny in ringe. Sny ook die uie en tamatie in ringe en voeg by. Plaas die pot op warm kole en smelt die margarien daarin. Gooi nou die uie, tamatie en soetrissie in die pot en wag totdat dit begin prut. Gooi die kruie, speserye en knoffelvlokkies daarby, plaas die deksel terug en laat prut dit vir sowat 10 minute. Voeg daarna die hoender by en meng deeglik. Plaas die deksel terug, verminder die kole en kook oor matige kole vir dertig minute. Voeg die Coca-Cola by, plaas die deksel terug en laat die mengsel prut vir 'n verdere tien minute. Voeg nou die aartappels (in halwes gesny) en wortel (in die lengte gehalveer) by saam met 'n knippie sout. Laat prut oor matige kole vir 25 minute en voeg die patats (in skywe gesny) by. Plaas deksel terug en laat liggies kook vir 15 minute. Gooi die pynappelsap in 'n maatbeker en voeg die pynappelstukkies by die sampioene en die murgpampoentjies (in ringe gesny). Voeg dit by die ander bestanddele in die pot en gooi sout en peper na smaak by.Terwyl die pot liggies prut vir 'n verdere 15 minute, gooi die uiesop by die pynappelsap en roer dit goed in. Gooi dit nou in die pot, langs die kante af, nie in die middel nie. Verwyder nou alle kole en laat die pot vir nog 5 minute prut. Bedien die gereg saam met wit rys en gestoofde droë vrugte. Die groente van dié potjie kan ook afgewissel word met blomkool of groenboontjies. Wanneer groenboontjies gebruik word, word aanbeveel dat u die boontjies heel hou en slegs die punte afsny.
NOG 'N BELANGRIKE PUNT WAT ONTHOU MOET WORD, IS DAT DIE POT NOOIT GEROER MOET WORD NIE. SLEGS VOOR DIT OPGESKEP WORD, KAN DIT EEN KEER GOED GEROER WORD.
留言