POTJIEKOS: Wenke
- Gert Peens
- Aug 5, 2015
- 2 min read

WAT IS POTJIEKOS?
Potjiekos is 'n verwysing na 'n eg Suid-Afrikaanse kooktegniek wat 'n ysterpot as hoofkookinstrument gebruik. Die ysterpot is ook bekend in ander dele van die wêreld as 'n dutch-oven, en word ook ysterpot, swart pot of net potjie genoem. Die pot word gemaak uit gietyster en het 'n deksel. Daar is verskillende grotes wat begin by ¼ tot so groot as 25. Die pot kom ook met 'n ronde bodem met drie pote, of 'n plat bodem sonder pote.
PROSES
'n Tipiese potjiekos resep het een of ander vleis as die basis van die gereg en groente en sous wat saam gekook en bedien word. 'n Vuur word gewoonlik gemaak apart van die kookgebied. Soos wat daar kole vorm, word dit onder, en somtyds bo op die ysterpot gepak om die juiste temperatuur te kry. Dit kan enige iets van 2-8 ure vat om potjiekos te maak, afhangende van die soort vleis en ander bestandele wat gebruik word. Souse se droë bestandele betaan gewoonlik uit verskeie speserye, sout en peper, en selfs ook kerrie. Nat bestandele sluit in bier, wyn, room en net gewone water. Verskillende tegnieke word gebruik, maar die mees algemeenste is om die bestandele in lae te plaas, en glad nie te roer nie. Om te bedien word daar dan met 'n groot lepel in een skep van onder tot bo 'n bietjie van alles geskep
KULTUUR
Potjiekoskompetisies is baie gewild in Suid-Afrika en Namibië onder die Afrikaners, maar ook in lande waar Suid-Afrikaners hervestig het oor die afgelope paar jaar soos Engeland, Australië en Nieu-Seeland. Potjiekos word in dieselfde asem as boerewors, biltong, droëwors, melktert, koeksisters en bobotie na verwys as eg tradisionele Afrikaanse geregte, en daarvoor word dit as 'n sosiale bond tussen Afrikaners gebruik reg oor die wêreld. Om iemand oor te nooi vir Potjiekos is soos om te sê dat die genooide persoon deel van jou vriende kring is, en jy graag saam wil kuier en gesels.
WENKE VIR DIE GEBRUIK VAN 'N POT
Maak pot goed skoon na gebruik. Smeer die binnekant met vet. Indien daar roes binne is, skuur met growwe sout. Moet nooit te veel water in pot gooi nie. Gebruik liewers wyn of bier in plek van water indien jy vloeistof moet bygooi. Die potjie moet met jou gesels, want ´n stil pot kan of aanbrand of glad nie kook nie. Hou altyd die deksel op. Hou styselrige kosse weg van die boom of kante, want dit brand maklik aan. ´n Platboom pot moet altyd op stene gesit word. Braai uie eers en haal dan uit. Dit word weer bygegooi net voor opdiening. Moenie kos in pot kook nie dit moet stadig prut. Roer net deur voor opdiening nie voor dit nie, anders is dit nie meer 'n potjie nie maar 'n bredie. Die beste houtsoorte is: rooikrans, swartwattel en wingerdstompies. Sny aartappels altyg groot stukke of gebruik klein aartappeltjies. Pak ´n pot in die volgende volgorde: vleis, groentes, uie en dan stysels.
VIR NUWE POTJIE:
Voeg groente skille, stingels en blare in ´n pot vol water en kook ´n uur lank . Gooi uit en spoel deeglik skoon. Skuur met hout-as en spoel weer skoon. Maak pot baie warm en giet bottel asyn daarin en kook ´n ruk. Spoel goed skoon.
Comments