WARM PATATS IN FOELIE
- Gert Peens
- Aug 5, 2015
- 2 min read

een medium patat per persoon foelie
botter growwe peper / peperkorrels
growwe sout / soutkorrels
extra virgin olyfolie
een suurlemoen
‘n paar takkies vars tiemie
Was die patats skoon en droog af (hou die vel aan). Neem ‘n vurk en steek so ‘n paar gate in die patats reg rondom. Plaas die patats elkeen op ‘n stuk foelie (blink kant na binne). Drup so klein bietjie olyfolie op elke patat, en smeer so bietjie botter op elkeen. Sny die suurlemoen in die helfte en druk ‘n klein bietjie sap op elke patat. Meng die sout en peperkorrels en maal dit fyn strooi op die patats. Plaas een takkie vars tiemie saam met die patat op die foelie. Draai die patats goed toe in die foelie moenie dat die tiemie uitval nie, want dit bring so ‘n lekker geurtjie en smakie daarby.
GAARMAAK
Jy het twee keuses. Jy kan die patats of op ‘n rooster op die vlamme sit, of dit reg langs die vuur/kole sit. Baie mense verwoes patats of selfs aartappels in foelie, as hulle dit onder by die vuur of kole sit, want hulle laat die vel brand en dan is dit glad nie lekker nie.
My keuse is om die patats in foelie op ‘n rooster bo op die vlamme te sit so aan die buitekant van die rooster. Draai gereeld om met ‘n goeie braaitang. Op hierdie manier reguleer jy die hitte beter. Jou kole sal redelik gou reg wees en op die manier kan jy 'n stuk wors dan ook bo op die rooster sit, met die patats wat al amper gaar is aan die buitekant van die rooster sodoende bly die patats warm en as jou wors gaar is, dan is jou patats ook al klaar gaar en nog steeds warm gehou. As jy die patats reg gaargemaak het, sal die vel ongeskonde wees en jou patat deurgaar en lekker sag, geurig en smaaklik.
Comments