top of page

Koningskos uit blikkies

  • Landbouweekblad
  • Aug 12, 2015
  • 5 min read

Kyk net wat kan jy in ‘n kits optower met jou blikoopsnyer byderhand.

Suikermielie-plaatkoekies

Héérlik vir ontbyt met stroop en brosgebraaide spekvleis.

1 blik geroomde suikermielies 1 eier, geklits 125 ml gerasperde parmesaan 125 ml fyn gekrummelde fetakaas 250 ml koekmeelblom Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak Knippie suiker 5 ml bakpoeier

Meng alles saam en laat staan vir 10 minute. Braai lepelsvol van die mengsel in ‘n pan met ‘n bietjie warm botter of olie tot goudbruin aan albei kante en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en sit dadelik voor.

Lewer 15 plaatkoekies.

Mediterreense platbrood

Eet dié geurige brood louwarm – dit is ‘n lekker variasie op pizza, meer vullend en nie so ryk nie.

1 kg bereide brooddeeg 1 ui, gekap 10 ml olyfolie 2 klein blikkies ansjovisfilette, gekap Klein handvol oregano, gekap Suiker, sout en vars gemaalde swartpeper na smaak 1 blik (410 g) tamatiepuree 80 ml witwyn 1 sakkie (100 g) swart olywe, ontpit en grof gekap 250-375 ml ricotta-, feta- of mozzarellakaas, gekrummel of gerasper

Laat die deeg op ‘n warm plek staan om tot twee keer in volume te rys. Terwyl die deeg rys, braai die ui in die olie tot gekarameliseer. Voeg die ansjovis, tamatiepuree en witwyn by en verhit net tot kookpunt. Voeg die oregano, suiker, sout en peper by en laat afkoel. Voorverhit die oond tot 180 °C en kry ‘n bakplaat gereed. Besprinkel die bakplaat met meel. Knie die deeg af en druk dit met jou hande platter tot dit ongeveer 1 cm dik is en die bakplaat min of meer volmaak. Laat weer rys. Skep die afgekoelde tamatie en ansjovissous oor, sprinkel olywe en kaas oor en bak vir ongeveer 30 minute tot die deeg gaar is. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Genoeg vir agt mense.

Koeskoesslaai

375 ml koeskoes 375 ml kokende hoender- of groente-aftreksel Olyfolie 1 ui, in dun wiggies gesny 2 knoffelhuisies, gekap 125 ml dukkah 250 g (1 pak) spekvleis, gesnipper 1 blik (410 g) kekerertjies, gedreineer 1 blik (410 g) botterbone, gedreineer 2 wiele fetakaas, gekrummel Handvol gemengde neute, grof gekap Handvol vars koljander, gekap

Slaaisous 125 ml rooiwynasyn 60 ml olyfolie 5 ml heuning 60 ml vars suurlemoensap Sout en vars gemaalde swartpeper

Gooi die koeskoes in ‘n groot glasbak en giet die kokende aftreksel oor. Bedek met ‘n styfpassende deksel of met kleefplastiek. Laat staan eenkant om te stoom. Verhit ‘n bietjie olyfolie en braai die uiewiggies daarin tot gaar. Voeg die knoffel en dukkah by en braai vir ‘n minuut. Haal die deksel of plastiek van die koeskoes af en vlok met ‘n vurk. Voeg die uie-en-dukkahmengsel by en roer deur. Braai die spekvleis in dieselfde pan en voeg die kekerertjies en botterbone by. Braai tot warm en voeg by die koeskoes saam met die fetakaas, neute en koljander. Meng deur. Sit die pan terug op die hitte en voeg die asyn en olyfolie by. Verhit tot kookpunt en roer met ‘n houtlepel om al die pansouse los te kry van die bodem. Voeg die heuning, suurlemoensap en geurmiddels by en kook vir ‘n paar sekondes. Gooi die warm slaaisous oor die koeskoes en meng deur. Laat staan vir ten minste 30 minute voor dit opgedien word.

Genoeg vir agt mense.

Varkwors-en-tamatiebredie

Geblikte tamaties is onontbeerlik in die kombuis – dit spaar tyd en moeite en is boonop nie duur nie.

500 g dik varkworsies 1 blik (410 g) gekapte tamaties 1 blikkie tamatiepasta 1 blik (410 g) tamatiepuree 250 ml hoenderaftreksel Sout, suiker en swartpeper na smaak 60 ml vars oregano, gekap 1 blik (410 g) botterbone, gedreineer 1 blik (410 g) gemengde bone, gedreineer

Braai die worsies in ‘n bietjie olyfolie tot goudbruin en gaar. Skep uit, laat afkoel en sny in stukke. Verhit die gekapte tamaties, tamatiepasta, tamatiepuree, aftreksel en geurmiddels tot kookpunt. Laat stadig prut tot afgekook en geurig. Voeg die bone by en laat prut vir nog ‘n paar minute. (As die sous te dik is, voeg ‘n bietjie aftreksel of water by.) Voeg laaste die wors by, verhit tot deurwarm, en sit voor met aartappel, rys of krummelpap. Genoeg vir 4-6 mense.

Nóg vinnige idees met blikkieskos

Maak hummus:

(Hummus is ‘n Midde-Oosterse puree van kekerertjies, suurlemoensap, sesamsaad en olie. Dit is heerlik op pitabrode met dun skyfies louwarm skaapboud, ‘n skyf kaas en vars kruie, soos bronkors of roketblare.) Verwerk 1 blik (410 g) gedreineerde kekerertjies, 2 fyn gedrukte knoffelhuisies, 60 ml geroosterde sesamsaad, 125 ml olyfolie, die sap van 2 suurlemoene, sout en peper na smaak tot glad. Skep in ‘n bakkie, giet ‘n lagie olie oor, bedek en bêre in die yskas.

Groenboon-en-tunaslaai:

Dreineer 2 blikke (410 g elk) Franse-snit groenboontjies. Maak ‘n louwarm vinaigrette deur 60 ml wit druiweasyn, 15 ml strooisuiker, 100 ml olyfolie, sout en peper na smaak saam te verhit tot die suiker gesmelt is. Giet oor die groenbone in ‘n bak. Dreineer 1 blik (170 g) soliedverpakte tuna en vlok grof. Krummel 1 wiel fetakaas en voeg by die tuna. Meng alles liggies met die bone, giet slaaisous oor en laat staan vir 10 minute. Geur na smaak met sout en peper en sit voor.

Vinnige vrugtepoeding:

Dreineer 2 blikkies vrugtekelkie en skep in ‘n gesmeerde oondvaste bak van 200 mm x 200 mm. Verroom 100 g botter en 125 ml strooisuiker en voeg 2 eiers een vir een by. Klits goed na elke byvoeging. Klits 250 ml bruismeel by en giet die beslag oor die vrugte in die bak. Versprei egalig en bak vir ongeveer 35 minute by 180 °C tot goudbruin en gaar. Sit voor met vla of roomys.

Soutbeesvleispastei:

Week 6 dik snye witbrood (korsies verwyder) in 125 ml melk tot al die vloeistof geabsorbeer is. Pak op die bodem van ‘n vierkantige 200 mm x 200 mm oondvaste bak. Druk 1 blik soutbeesvleis fyn met ‘n vurk en skep op die broodkors. Sprinkel 250 ml gerasperde cheddarkaas oor. Klits 4 eiers en giet egalig oor die kaas. Geur met sout en peper en rangskik ‘n paar skywe vars tamatie bo-op. Bak vir 20-30 minute teen 180 °C tot ferm. Sit louwarm voor met slaai.

Tamatie-en-boontjiesop:

Braai 2 gekapte uie, 1 gekapte Chorizo-wors en 2 gekapte knoffelhuisies stadig in ‘n bietjie olyfolie tot die ui sag is. Voeg 2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties, 750 ml hoenderaftreksel, 15 ml Worcestersous, 45 ml gekapte vars oregano, suiker, sout en peper na smaak by. Verhit tot kookpunt en prut vir ongeveer 20 minute tot geurig en afgekook. Dreineer 1 blik (410 g) botterbone OF ‘n blik gemengde bone en voeg by. Prut vir nog 5-10 minute, pas die geurmiddels aan en sit voor met vars brood.

 
 
 

Comments


RSS Feed

NOU BESKIKBAAR!

Kruie van Toeka tot Nou - DIE BOEK deur Dr. Chris Pitzer is NOU beskikbaar!

Prys: R399 / boek

Koerierkoste in SA: R80

 

Rainbow Gospel Radio

Rainbow Gospel Radio is the Mission Radio for the World.

We currently have listeners in 180 countries around the globe.

Rainbow Gospel Radio broadcasts via the internet and has no demographic restrictions.

Click on the link to tune into Rainbow Gospel Radio.

Why braai alone when you can have fun with family and friends?

Sponsor an Hour

Rainbow Gospel Radio invites you to sponsor an hour and invest in missionary work worldwide. Your contribution will help to spread the Word of God around the globe.

Yummy

Yummy is Rainbow Gospel Radio's recipe group on Facebook.We have more than 15 000 delicious recipes on our blog and if you need a recipe, you can just post in Yummy and admin will gladly provide the link. If we don't have the recipe you are searching for, we will find it for you!

 

The Rainbow Story

A vision from God became a reality....

 

Click on the link to read the Rainbow Story, which includes Nico Liebenberg's testimony and illustrates the amazing grace of our Heavenly Father.

Please reload

New on the Blog

bottom of page