Biltong
- Marktoe
- Sep 15, 2015
- 2 min read

Waar die naam vandaan kom, gaan my verstand te bowe, selfs die Ingelse ‘jerky’ klink ook maar vir my snaaks. Hoe dit ook al sy, wanneer jy dit in Google intik, kry mens op die eerste paar bladsye allerhande mense wat biltong in die buiteland verkoop. Van New York tot Londen en Perth, die Suid-Afrikaners is soos ’n hedendaagse diaspora versprei, maar een ding is verseker.; hulle kan die land verlaat maar hul palette soek daai gedroogde vleisie. Dis nou maar wors! Almal het hulle eie weergawe van biltong. Sommige geniet ’n bietjie rissie by, ander verkies meer koljander. Party mense hou van hulle biltong nog taamlik nat, ander weer kurkdroog. Ek persoonlik hou van ’n vetjie op ’n biltong en hy moenie te droog wees nie. Ook nie te nat nie. Net só. My oorlede ma het altyd die baie droë biltong fyngekap met ’n hamer en dan op ’n stukkie brood gesit. As jy varkvet het, nog beter! Hoe pak die heimwee my nou. Sny jou biltongstukke uit die dyspier uit, oftewel ‘silverside’ of ‘topside’ in Engels. Die mates hier verskaf, is net ’n skatting, hoe meer jy biltong maak hoe meer sal jy ’n gevoel vir hoeveelhede ontwikkel:
Bestanddele
½ Koppie bruin asyn ¼ Koppie Worcestersous 1 Koppie goeie kwaliteit growwe sout ½ Koppie bruin suiker Wit peper Gemaalde en geroosterde koljandersade (nie fyngemaal nie)
Metode
Meng al die droë bestanddele saam. Kry ’n plat bak wat groot genoeg is om die vleis in te laat lê. Gooi die asyn en Worcestersous oor die vleis en volg op met die speserye. Pak hulle in lae in die bak en laat staan vir so 12 ure voordat jy dit in ’n droë plek hang. My pa het dit sommer in die garage gehang tot groot genot van al my pelle wat altyd so ’n draaitjie by ons huis kom maak het om ’n stukkie biltong in hul sakke te steek. As jy ’n biltongmaker het nog beter.
Comentarios