BRAAIKAASHAPPIES – BUCK RAREBIT met RYSBALLETJIES
- Adam Cloete
- Nov 17, 2015
- 2 min read

Na aan leiding van 'n versoek oor Welsh Rarebit die ander dag het ek in my lêers gaan rondkrap en toe afgekom op Buck Rarebit. Eers gedog ek was bietjie deurmekaar maar toe ek ondersoek instel vind ek uit dat Welsh Rarebit 'n plein kaas braaibroodjie is, terwyl Buck Rarebit dieselfde is maar ten minste 'n eier bo-op kry. Hy kan egter ook gelaai wees met ander goed soos van sampioene tot baked beans, saam met die eier. Saam met dit het ek ryskoekies gemaak van 'n bak rys wat van die vorige dag oorgebly het. Die sous is 'n pakkie bruin uie sous waarby ek bietjie blatjang ingemeng het.
Vir 4 Porsies 4 eiers 30g botter sout en peper 1 eetlepel meel 3 eetlepels melk 2 eetlepels bier 1 teelepel Worchestersous 1 eetlepel Dijon mostert 150g gerasperde Cheddarkaas 4 dik snye brood
Smelt die botter in ‘n kastrol. Roer die meel in en kook liggies terwyl dit geroerword tot die meel en botter behoorlik gemeng is. Roer die melk geleidelik in. Voeg die bier, mostert en Worchestersous by en roer deeglik tot ‘n dik sous vorm. Indien te dik kan klein bietjie melk bygevoeg word. Haal van die hitte af en meng die kaas by tot die kaas heeltemal gesmelt is. Geur na smaak met sout en peper. Rooster en botter die brood. Smeer die braaikaasmengsel oor die gebotterde roosterbrood. Plaas onder ‘n matige rooster en rooster vir 2 tot 3 minute. Bak intussen die eiers sodat dit wit stol maar die gele loperig bly. Plaas ‘n gebakte eier bo-op elke sny en bedien dadelik Bron en Foto: Adam Cloete
RYSBALLETJIES
2 koppies gekookte rys (gebruik gister se rys wat oorgebly het) 1 koppie gewone meel 3 teelepels bakpoeier 2 eiers olie om in te braai sout en peper na smaak. (onthou die rys het reeds sout in)
Meng alles deeglik tot ‘n stywe deeg vorm. Maak plat koekies (bestrooi met bietjie meel as jy dit vorm want hulle is klewerig) en bak in vlak olie oor matige hitte tot goudbruin aan elke kant. Bedien met ‘n sous van jou keuse. Bron en Foto: Adam Cloete.
Comments