✞ ✞ ✞ AFGEKEUR ✞ ✞ ✞
- Arcus Pluvius Ministry - Nico Liebenberg
- Jan 13, 2016
- 2 min read
. “ … ook julle … versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle …. onberispelik voor Hom te stel” Kolossense 1: 22 . Op die bodem van die steengroef van Aswan in Suid-Egipte, lê ‘n onvoltooide obelisk (gedenknaald). ‘n Paar duisend jaar lê dit al daar. Heelwaarskynlik het Thothemes III dit laat maak. Dit sou die grootste obelisk in die wêreld gewees het. Dit weeg 1 170 ton. Drie sye is heeltemaal afgewerk. Die vierde sy, net gedeeltelik. Hoekom is dit nooit voltooi nie? . Met die afwerking van die vierde sy is ‘n krakie in die graniet ontdek.. So ‘n hoë agting het die Egiptenaars vir hulle gode gehad, hulle het liewer die kosbare blok graniet laat lê as om dit met ‘n krakie in voor een van hulle tempels op te rig. .
Die lewende God wat ons dien, se eise is ook baie hoog. Oor die toegang tot sy koninkryk lees ons: Niks onreins en niemand wat iets … vals doen, sal ooit daarin kom nie Openb.21:27 . Ons word almal deur God se eis van volmaaktheid uitgesluit om ooit vir sy koninkryk te kwalifiseer. . Gelukkig beoordeel God ons nie volgens ons eie meriete nie. Hy neem ons aan en gee vir ons in sy koninkryk plek op grond van Chritus se volmaaktheid. Die Here Jesus was volmaak. Volmaak in Sy gees van liefde en in Sy geloof in God; volmaak in Sy gehoorsaamheid; volmaak in nederigheid en diens aan sy medemens; volmaak in wat Hy gesê het en in wat Hy gedoen het. . Dit is alles die terreine en dinge waarin ons foute maak en kortkom. Hy het nooit sonde gedoen nie. Nooit ‘n fout gemaak nie. Van Hom het God gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” Mat.3:17 . Jesus se volmaaktheid word op ons rekening geplaas en ons foute, gebreke en sondes is op Hom gelê. Die Bybel sê dit in soveel woorde: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Hom, deur God vrygespreek kan wees 2 Kor.5: 21 . . ✞ Hemelse Telefoon: Here, ek wil vandag, bewus van my swakheid en foute en struikelinge, vertrou in Christus wat my plek ingeneem het en Sy plek vir my gegee het.
Comments