Jan Braai se Griekse braaibroodjie
- Jan Braai
- Jan 20, 2016
- 2 min read

Om sake glad te laat verloop, soteer jy die ui en soetrissie vooraf in ’n bietjie olyfolie. Dit maak hulle soeter en wanneer jy alles in die braaibroodjies moet inpas, is dit ook makliker. Olywe, feta, tamaties en cheddarkaas kleur die prentjie in. Hierdie braaibroodjies is nogal volgestop en jy moet hulle versigtig braai. Dis die beste om ’n verstelbare toeklaprooster te gebruik.
WAT JY NODIG HET (vir 4 mense) 1 sopie olyfolie (plus ekstra om die brood mee te bedruip) 1 groen soetrissie (gesny) 1 rooi-ui (gesny) 8 snye witbrood ½ koppie olywe (ontpit en gehalveer) 2 skywe fetakaas (omtrent 150 g, gekrummel) 1 koppie beleë cheddarkaas (gerasper) 2 groot tamaties (gesny) varsgemaalde sout en swartpeper 1 sopie vars origanum
LAAT WAAI!
Verhit die olie in ’n pan en soteer die soetrissie en ui totdat hulle sag en gekaramelliseer is. Dit sal omtrent 15 minute neem, so wees rustig. Bedruip al die snye brood aan die een kant met olyfolie (die geoliede kante sal die buitekante wees).
Sit die helfte van die snye brood, geoliede kant onder, op ’n bord en pak die olywe, gebraaide uie en soetrissie, fetakaas, cheddarkaas en tamatieskywe in lae daarop. Geur met sout en peper en origanum.
Bedek met die ander snye brood, dié keer met die geoliede kant na bo, en braai in ’n toeklaprooster oor medium hitte tot die brood gerooster en die kaas gesmelt is.
Al is komkommer deel van ’n Griekse slaai, is hy nie welkom in die braaibroodjies nie. Bedien dit eerder as garnering langs die broodjies. ’n Regte Griekse slaai het ook nooit slaaiblare in nie, so jy hoef nie daarvan in die braaibroodjies of langsaan te sit nie.
Behalwe vir die komkommer bevat die braaibroodjies al die bestanddele van ’n braaibroodjie én ’n Griekse slaai. Daarom kan jy dit sommer as die enigste en eksklusiewe bykos by ’n braai bedien. Dit smaak baie lekker, is veeldoelig en steek ’n selderystokkie voor daardie onaangeraakte slaaibakke by die braai.
*Die resep is in sy nuutste braaiboek, “Die Demokratiese Republiek van Braai” wat pas by Human & Rousseau verskyn het.
留言