Steak met skop
- Suidwesters Maak Kos
- Jan 8, 2016
- 2 min read

’n Gebraaide steak is ekstra-lekker as hy met ’n geurige sous voorgesit word... én nog ’n eier bo-op kry.
• 2 steaks van 500 g elk
• 4 eiers
Vir die marinade
• 1/3 koppie sojasous
• ¼ koppie worcestersous
• 1/3 koppie suurlemoensap
• ½ koppie olyfolie
• 1 eetlepel droë knoffelvlokkies
• 1 eetlepel gemengde droë kruie
• 1 eetlepel rissiesous
• ½ teelepel witpeper
Vir die sous
• 2 eetlepels botter
• 1 eetlepel gekneusde peperkorrels
• 2 teelepels ingemaakte groenpeperkorrels
• 1 lourierblaar
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• ¼ koppie brandewyn
• 1 koppie room
• sout na smaak
So maak jy
1. Meng die bestanddele vir die marinade en marineer die steaks vir sowat 2 uur buite die yskas totdat dit kamertemperatuur bereik. Gebruik ’n plastiekhouer met ’n deksel (of gooi ’n vadoek oor die marineerbak).
2. Maak die brandewynsous: Verhit die botter in ’n potjie totdat dit begin bruin word. Soteer al die peperkorrels, lourierblaar en knoffel vir ’n minuut lank in die botter – maak seker jy brand nie die knoffel nie. Gooi die brandewyn by en kook die sous vir sowat 2 minute sodat die meeste van die alkohol kan verdamp. Meng die room by en laat dit stadig kook tot die sous verdik. Geur die sous na smaak met sout.
3. Braai die steaks oor baie warm kole totdat hulle so gaar is soos jy dit verkies.
4. Smeer 4 holtes van ’n kolwyntjiepan met botter en breek die eiers daarin. Bak die eiers op die rooster totdat die geel gaar is na jou smaak.
5. Verdeel die steaks in vier porsies en sit elke steak voor met peperbrandewynsous en ’n eier bo-op.
コメント