WILLE WILDSPOTJIE
- Lekker Braai
- Jan 9, 2016
- 3 min read

1.8 kg wildsvleis, of beesvleis vir potjiekos Vir die marinade 5 ml komynsaad 10 ml koljandersaad 5 ml vinkelsaad 375 ml karringmelk Braai komyn-, koljander- en vinkelsaad saam in ‘n warm, droë pan – net totdat jy dit begin ruik. Meng met die karringmelk. Gooi die marinade oor die vleis. Marineer vir minstens een uur of oornag as jy dit tyd het. Indien jy dit vir langer as ‘n uur marineer plaas dit in die yskas, en haal weer ‘n uur voordat jy dit wil braai uit die yskas. VIR DIE RES VAN DIE POT: 125 ml karringmelk 125 ml sjerrie 750 ml vleis- of geurige groente-aftreksel 125 ml soppoeier – oxtail & bruin-uie - Vul op met water tot 250 ml 250 ml rooiwyn olie, om te braai 50 g repies of blokkies spek, of pancetta heel klein uitjies, skil verwyder baba-aartappelsklein patats baba-leeks groenboontjies sampioene Maak die souse aan voordat jy begin om te braai, dan is daar nie later ‘n geskarrel nie. Vir die eerste sous meng in ‘n bak die karringmelk, sjerrie en aangemaakte aftreksel saam. Vir die sous wat jy later gaan gebruik, gooi ‘n halfkoppie gemengde soppoeier in ‘n koppie. Vul dan die water op tot bo. Meng deeglik en meng dit in ‘n maatbeker met die rooiwyn en hou eenkant. Nou kan jy in alle erns met die pot begin: Wanneer jou pot goed warm is, gooi bietjie olie in en braai die spekstukkies en uitjies tot dit mooi verbruin. Verwyder van die pan en hou eenkant. Gooi weer olie in die pot om die vleis te braai. Haal die vleis uit die marinade uit, en probeer om soveel as moontlik daarvan af te skraap met jou hande of met handdoekpapier. Braai dan die vleis, ‘n paar stukke op ‘n slag, tot goudbruin aan alle kante. Sprinkel met sout en peper terwyl dit braai. Verwyder en hou eenkant. Wanneer al die vleis gebraai is, gooi dit terug in die pot. Gooi dan die eerste sous met die karringmelk in. Prut die vleis vir ongeveer een en ‘n half tot twee ure, totdat dit sag begin word. Voeg dan die aartappeltjies, patats, leeks, en die gebraaide uitjies en spek by. Sprinkel met nog sout en peper. Prut vir nog ‘n halfuur, of totdat die aartappels amper sag is. Gooi die groenboontjies en sampioene by. Voeg dan ook die ander sous, die een met die rooiwyn, by. Kook vir nog ‘n kwartier totdat die nuwe toevoegings ook sag is. Indien jy kluitjies wil opsit, is dit nou die tyd om gou jou deeg aan te maak. KLUITJIES Dié kluitjies, wat ons nog altyd in ons gesin as doughboys ken, word bo-op die potjiekos in die pot gaar gestoom. Dis baie vinnig om aanmekaar te slaan, en hoewel jy rys ook by die pot kan eet, is die kluitjies eintlik genoegsaam. Nigella-saad word ook wilde ui-saad genoem, en die oomblik wat jy dit eet sal jy weet hoekom. Dis klein swart saadjies, net bietjie kleiner as ‘n sesamsaad en is by uitgesoekte winkels beskikbaar. Jy kan dit natuurlik weglaat uit die resep of vervang met k oljandersade. 500 ml meel 20 ml bakpoeier 2.5 ml sout 5 ml nigella-saad (opsioneel) 45 ml olie 200 – 300 ml melk Meng die meel, bakpoeier, sout en nigella-saad (indien gebruik) in ‘n mengbak saam. Klits die olie en 200 ml melk met ‘n vurk saam en voeg dit by die droë bestanddele en roer om ‘n deeg te vorm. Jy kan die deeg nou uitrol en soos skons uitdruk en bo-op die potjiekos pak. Of, voeg die res van die melk by en maak ‘n slap deeg. Die deeg word dan op die potjiekos geskep, en dit vorm ‘n kors bo-op. Voordat jy die kluitjies egter op die potjiekos sit, maak seker dat daar genoeg vloeistof in die pot is en dat die vloeistof lekker prut. Nadat jy die deeg opgesit het, maak die deksel toe en maak eers weer na 15 minute oop om te toets. Dit kan tot 20 minute neem om gaar te stoom.
Comments