✞ ✞ ✞ WIE RESPEK VERDIEN ✞ ✞ ✞
- Arcus Pluvius Ministry - Nico Liebenberg
- Feb 11, 2016
- 2 min read
. “As iemand My dien, sal die Vader hom eer” Johannes 12: 26 . Die Skotse sendeling, David Livingstone, is in 1873 op 60-jarige ouderdom dood. Hy kon sy lewe in gerief by sy tuiste in Skotland geslyt het, maar hy het die sendingveld gekies. Oor hierdie keuse het hy gesê: “Mense praat van die opoffering wat ek gemaak het, om die grootste deel van my lewe op die Afrikasendingveld deur te bring. Dit is net ’n klein terugbetaling vir die groot opoffering wat my Verlosser gemaak het, om sy hemeltuiste en sy Vader se troon prys te gee om vir my ’n ewige saligheid te kom bewerk!” Na David Livingstone se dood het ondersteuners van sy sendingwerk in Afrika, dadelik aan die werk gespring om sy liggaam terug te bring Engeland toe. Hy is in 1874 in die Westminster Abdy in Londen begrawe. . Die dag met sy begrafnis het duisende mense die strate waarlangs die stoet sou beweeg volgestaan om ’n laaste eer aan hom te bewys. Tussen die skare het ’n boemelaar gestaan: vuil, klere flenters, hare en baard lank en deurmekaar. Hy het droewig gestaan en huil. Iemand vra hom: “Wat makeer, ouman? Hoekom huil jy so vreeslik?” .Snikkend antwoord die ou man: “Ek en Davie het saam grootgeword. Ons het saam skoolgegaan. Ons was in dieselfde klas. Ons het saam op ’n skoolbank gesit. Saam gewerk. En toe het hy sy pad gekies en kyk wat kry hy vandag. Almal ken hom. Die hele volk eer hom. Ek het ook my pad gekies, en wat kry ek vandag? Ek is onbekend, verwaarloos, eerloos. Ek het niks om na uit te sien nie, as net ’n dronkaardsgraf.” . As David Livingstone met sy eertydse vriend kon praat, sou hy seker vir hom ’n wonderlike uitredding kon voorhou. Die uitredding van die evangelie van die Here Jesus Christus, vir iemand wat die pad van die verlore seun geloop het. Dit is hierdie wonderlike boodskap van redding wat Livingstone sendingveld toe laat gaan het. Hy sou vir hom kon sê: “God het jóu ook lief. Hy het sy enigste Seun ook vir jóu sonde laat sterwe. Vlug met jou sonde en verlore lewe na Hom toe. . Hy het gesê: ‘Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie…” Joh.6:37 . Kom, begin ’n nuwe lewe saam met die Here Jesus.
Comentários