Forel-pannekoekrolletjies
- Beeld
- Feb 23, 2016
- 2 min read

Wie wil nou staan en individuele pannekoekies maak Maak eerder groot pannekoeke, vul en sny dan in netjiese rolletjies wat jy met ’n tandestokkie in ’n vingerhappie omskep. Forel is net so lekker soos salm, maar baie goedkoper. Maak genoeg vir sowat 10-12 mense.
Jy het nodig: Vir die pannekoekdeeg: . 250 ml meel . 5 ml bakpoeier . 2,5 ml sout . 1 eier . 375 ml melk . 15 ml botter, gesmelt . olie, vir bak
Vir die vulsel: . 250 g roomkaas . vars dille, gekap (na smaak) . sout en swartpeper na smaak . die sap en skil van 1 sappige suurlemoen . 250 g gerookte forel . grasuie, vir garnering
Só maak mens:
Vir die pannekoekdeeg: 1. Sif meel, bakpoeier en sout in ’n mengbak. 2. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en voeg eier, melk en botter by. Gebruik ’n houtlepel en meng goed tot ’n deeg. Bedek die bak en laat dit vir sowat ’n uur staan (as jy nie tyd het nie, laat dit dan vir minstens 10 minute staan). 3. Pak pannekoeke soos gewoonlik en hou warm tot benodig.
Maak die vulsel: 1. Plaas die roomkaas, dille, sout en peper, suurlemoenskil en -sap in ’n mengbak en meng goed. 2. Proe en pas die smaak aan met nog suurlemoensap of dille, soos jy verkies.
Maak die happies: Smeer die roomkaasmengsel oor die pannekoek. Pak repies forel in die middel van die pannekoek. Rol styf op en sny in netjiese rolletjies. Druk elke rolletjie met ’n tandestokkie vas en garneer met grasuie. Bêre in die yskas tot jy dit wil voorsit.
Comments