ROOMYS KOEK
- RESEPTE EN WENKE
- Feb 25, 2016
- 2 min read

Bestanddele: 2 liter vanielje-roomys 1 liter sjokolade-roomys 100 g kasjoeneut- of grondboontjie-broslekkers (brittle) Metode: Gebruik ’n metaalbak wat groot genoeg is om al die roomys in te skep. Voer die bak uit met kleefplastiek. (Moenie bekommerd wees as die kleefplastiek voue maak nie.) Plaas die vanielje-roomys in ’n mengbak en roer tot sag, maar nie gesmelt nie. Skep so driekwart van die roomys in die uitgevoerde metaalbak, met ’n effense holte in die middel. Sit die bak in die vrieskas. Kap die broslekkers in jou voedselverwerker fyn. Skep die sjokolade-roomys in ’n mengbak en roer tot sag (nes die vanielje-roomys). Meng die fyngekapte broslekkers met die sjokolade-roomys en skep in die holte wat jy in die vanielje-roomys gemaak het. Skep die res van die vanielje-roomys bo-op. Maak die bak toe met kleefplastiek en plaas in die vrieskas. Hoe langer die roomyskoek in die vrieskas is, hoe harder sal dit wees. Voordat jy die roomys-koek voorsit, verwyder jy die kleefplastiek wat bo-op is. Keer die houer om op jou opdienbord. Vryf met ’n warm lap en haal die bak af. Dit sal maklik afkom, omdat jy dit met kleefplastiek uitgevoer het. Sit voor saam met aarbeie wat in sjokolade gedoop is. En die lekkerste sjokolade-nougat-sous. Sjokolade-nougat-sous: 300 g nougat, in stukke gesny 200 g melksjokolade, in blokke gebreek 250 ml room Sit al die bestanddele saam in ’n kastrol. Plaas oor baie lae hitte op die stoof. Die sous moet glad nie kook nie, maar smelt. Jy kan ontspan, jy hoef dit net nou en dan te roer. Sit warm voor saam met die roomyskoek. Vars aarbeie gedoop in sjokolade: sowat 800 g aarbeie 100 g 70%-donkersjokolade Breek die sjokolade in ’n mengbak wat oor ’n kastrol met kookwater pas. Maak seker die bak raak nie aan die water nie. Die water hoef nie meer te kook nie, dit moet net baie warm wees. Roer elke nou en dan die sjokolade tot dit gesmelt is. Doop die punte van die aarbeie in die sjokolade en plaas op waspapier totdat die sjokolade hard geword het.
Kommentare