Stap vir stap: Steak-pastei
- Marianne Jacoby
- Feb 26, 2016
- 2 min read

Genoeg vir: 6 Bereidingstyd: 30 minute Gaarmaaktyd: 1 uur, 40 minute Oondtemperatuur: 220 ̊C
• 80 ml koekmeel • 10 ml mosterdpoeier • 800 g stowebeesvleis, in 3 cm-blokkies gesny • 30 ml sonneblomolie • 10 piekeluie, geskil • 2 knoffelhuisies, gekneus • 10 babawortels, geskil (sny dit middeldeur as dit te groot is) • 700 ml bereide beesvleisaftreksel • 30 ml tamatiepasta • 2 takkies vars tiemie (of 5 ml gedroogde tiemie) • 2 lourierblare • 10 ml worcestersous • 400 g klaargemaakte blaardeeg • 1 groot eier, liggies geklop
1 Meng die meel en mosterdpoeier en bestrooi die vleis daarmee. Verhit die helfte van die olie in ’n kastrol oor matige tot hoë hitte en braai die piekeluie bruin. Voeg die knoffel en wortels by en soteer vir nog twee minute. Haal dit uit die kastrol en sit eenkant. 2 Voeg ’n bietjie van die oorblywende olie by en braai die helfte van die vleis bruin oor hoë hitte. Skep uit die kastrol en herhaal met die res van die vleis. Sit die vleis en groente terug in die kastrol. 3 Voeg die beesvleisaftreksel, tamatiepasta, kruie en worcestersous by en laat kook. Stel die hitte laer en sit ’n deksel op. Prut vir sowat een uur of tot die vleis byna sag is. Geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. 4 Haal die pasteivulsel van die plaat af en skep in ’n gesmeerde oondvaste skottel. Laat effens afkoel. 5 Rol die deeg uit op ’n liggies meelbestrooide oppervlak. Sny ’n sirkel deeg wat effens groter is as die bokant van die skottel wat jy gebruik. Rol die oorskietdeeg saam en sny ’n 3cm-strook wat rondom die skottel se rand sal pas. Smeer die eier aan die rand en plak dan die 3cm-strook daarop sodat die deegsirkel daarop kan vassit. Smeer nog eier aan die 3cm-strook en sit die deegsirkel netjies oor die vulsel. 6 Smeer eier oor die oppervlak van die deegsirkel en druk die rande met ’n vurk vas. Maak ’n gaatjie in die middel sodat die stoom kan ontsnap wanneer dit bak. Jy kan patrone uit die oorskietstukkies deeg sny en die tert daarmee versier as jy wil. Bak in ‘n voorverhitte oond vir 25 tot 30 minute of tot die deeg bros en goudbruin is. Sit warm voor. Wenke • Stowevleis is nie so duur nie en baie geskik vir dié pastei. Gebruik ontbeende borsstuk, skouer, dikrib of skenkelvleis. Dié snitte het bindweefsel wat tydens die gaarmaakproses afbreek en ’n dik sous en sagte vleis maak. • Sny die piekeluie middeldeur as dit te groot is. • Dit verg tyd en geduld om die perfekte blaardeeg te maak. Jy kan goeie klaargemaakte deeg koop en liewer jou tyd gebruik om ’n heerlike vulsel te maak. Variasies • Maak ’n beesvleis-en-Guinness-pastei deur die helfte Guinness (of moutbier) en die helfte beesvleisaftreksel te gebruik. Jy kan ook die helfte rooi wyn en die helfte aftreksel gebruik vir ’n bief-en-rooiwynpastei. • Vir ’n beesvleis-en-sampioen-pastei voeg jy 20 minute voor die einde van die gaarmaakproses 250g heel dwergsampioene by.
Commentaires