✞ ✞ ✞ REINIG EN VERNUWE ✞ ✞ ✞
- Arcus Pluvius Ministry - Nico Liebenberg
- Feb 29, 2016
- 2 min read
. “…julle (het) die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom” 1 Tessalonisense 1: 6 . Eendag stap ’n predikant in die Skotse platteland, langs ’n lopende spruit af. ’n Bejaarde vrou sit op die oewer van die spruit en was die wol wat sy wil spin. Herhaaldelik doop sy ‘n sif met die wol in, in die helder, lopende water in. Hy groet haar en vra of sy hom ken. . “Ja, Meneer, ek ken u en ek sal God altyd vir u dank, want ek het onder ‘n preek van u die Here leer ken,” antwoord sy met ’n vriendelike lag. . “Wat was my preek die dag?” vra hy met groot belangstelling. . Die vrou dink ’n rukkie, lag dan verleë. “Ek kan nie onthou nie. My geheue is deesdae so sleg.” . “Hoe kon die preek jou dan so getref het as jy nie eers kan onthou wat dit was nie?” vra die dominee teleurgesteld. . Sy antwoord: “Meneer, my gedagte is soos hierdie sif. Dit hou nie water nie, maar soos die water deur dit spoel, maak dit die wol skoon. Soos die Here se woord deur my gedagte gaan terwyl ek luister, maak dit my binnekant skoon en nuut. Elke dag vra ek my Verlosser om my deur sy woord en met sy bloed van onreinheid binne-in my te reinig.” . Die woord van God, of ons daarna luister of dit lees, het in ons ’n lewende krag. Ons is nie alleen betrokke by die aanhoor van die Here se woord nie. Die Heilige Gees werk saam, om die woord in ons gemoed lewend en duidelik te maak. As ons geheue saamwerk, het dit nog groter krag, want dan kan ons die woord weer en weer oordink en aan ander oordra. Paulus sê van die Christene in Tessalonika (1 Tessalonisense 1: 6 – 8) hulle het “die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom,” en toe “volge-linge van die Here geword,” en “’n voorbeeld geword,” en toe “van julle uit het die woord van die Here weerklink.” . Dus: hoorders, volgelinge, voorbeelde en toe weerklanke van die woord!
Comentarios