VREES:- DIE VYAND SE VERLAMMENDE SUSMIDDEL
- Koppie Troos - Driekie Grobler
- Mar 2, 2016
- 2 min read

Wanneer jy iets of iemand vrees, is jy nie in staat om oorlog te kan voer nie. ‘n Bang mens is ‘n wegkruip- en werhardloop-mens.
Vrees word veroorsaak deur die gevoel van onmag om in beheer van ‘n situasie te wees, of dat dit wat verborge is, openbaar gemaak gaan word.
As kind van God, met sy Gees wat in jou woon, het jy die outoriteit om ALTYD in beheer te wees en oor die onmag van vrees te heers. Om só te lewe dat jy nie goed hoef weg te steek wat die vyand teen jou kan gebruik nie.
Hoekom laat ons dan toe dat die vyand ons nog steeds verlam met vrees? Is dit as gevolg van verkeerde keuses wat ons maak?
Hoekom vrees ons mense en dinge terwyl die Here ons die outoriteit gee om daaroor te heers? Om daardie sonde dadelik te bely en vry te kom daarvan. Dit nie gaan begrawe in die hoop dat niemand sal uitvind nie.
Matteus 10:26-28 “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.” Moet dus nie toelaat dat iemand jou afdreig oor goed wat gebeur het en so ‘n houvas op jou kry nie. Die Here sê uitdruklik dat alles wel een of ander tyd aan die lig sal kom. Bely jou sonde dadelik en kom vry daarvan sodat daar nie verskuilde tydbomme is wat die vyand teen jou kan gebruik nie. Wees wakker, wees paraat.
“Here, dankie vir die outoriteit wat U aan ons gee om te kan heers oor sonde. Gee dat ons die verantwoordelikheid van ‘n opregte en skoon lewenswyse sal nastreef en nie sal toelaat dat die vyand ons kelder met vrees nie. Amen. Mag julle ‘n wonderlike dag hê.
Comments