BOBOTIE EN RYS BAKKIES
- Bon Appetit Met Rita
- Mar 4, 2016
- 2 min read

Lewer 6 - 8 porsies. Die geheim is om die bobotie lekker souserig te maak. Jy hoef natuurlik nie geelrys te maak nie – gebruik die soort rys waarvan jy hou. GEELRYS 500 ml wit rys 5 ml sout 3 ml borrie 125 ml pitlose rosyne 1 liter water BOBOTIE 30 ml olie 2 uie - gekap 2 knoffelhuisies - gekap 3 cm vars gemmer - gerasper 15 ml sterk kerriepoeier 10 ml borrie 30 ml appelkooskonfyt sout na smaak 15 ml vrugteblatjang 1 kg beesmaalvleis 2 snye brood - grof gebreek 250 ml melk 125 ml water BOLAAG lourierblare 3 ekstra groot eiers 375 ml volroommelk blatjang - om mee voor te sit GEELRYS Sit alles saam in ’n kastrol. Roer goed en verhit tot kookpunt. Bedek en prut tot die rys gaar is. Haal van die hitte af, maar hou die deksel op. Laat staan die pot vir 5 - 10 minute sodat die rys verder kan stoom. Skep die geelrys onder in ’n groot, gesmeerde oondbak. As jy individuele bakkies maak, skep ’n derde van elke bakkie vol rys. BOBOTIE Voorverhit die oond tot 180 ° C. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, kerriepoeier en borrie by en braai tot geurig. Voeg die appelkooskonfyt, sout en blatjang by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die vleis by en braai tot bruin. Week die brood in die melk en water tot sag en druk fyn met ’n vurk. Voeg by die vleismengsel en meng goed deur. Skep die bobotiemengsel egalig bo op die geelrys. BOLAAG Druk ’n paar lourierblare op die vleis vas. Klits die eiers en melk goed en gooi oor die vleis. Bak vir 20 - 30 minute tot die bolaag goudbruin en ferm is. Sit elke porsie voor met ’n skeppie blatjang.
ความคิดเห็น