BRING DIE KINDERS
- Kopie troos - Driekie Grobler
- Mar 4, 2016
- 2 min read

ir elke ouer is sy kinders een van die belangrikste dinge in die lewe.
Niks sal ooit te veel wees om op te offer vir hulle geluk en behoud nie, want solank hulle gelukkig is, is ons (as ouers) ook gelukkig.
Dis vir geen ouer lekker om te sien sy kind is ongelukkig en kry swaar nie.
Maar tog vergeet ouers soms die belangrikste wat hulle hul kinders moet en kan gee.
Hoeveel kinders, vandag, word nog groot met ‘n pa wat na aandete die Bybel vat en hulle uit God se Woord leer? Toerus met wysheid en insig uit die bron van Lewe?
Hoeveel kinders, vandag, word groot met die instelling dat Sondae die dag van die Here is, en dat die hele gesin saam kerk toe gaan. Die kinders ingeskakel by ‘n sondagskool?
Hoeveel kinders, vandag, woon nog jeugdienste by?
In kort, waarop fokus jy, as ouer, jou kind se lewe, visie en toekoms?
Gee jy vir jou kinders die anker waaraan hulle kan vashou in tye van krisisse? Die hoop dat daar vir elke probleem ‘n oplossing is? Die wete dat hulle altyd ‘n veilige skuilplek in die Here het?
Of leer jy jou kinders om op wankelbare fondamente te staan en te vertrou? Ankerloos.
Markus 10:14-15 “Maar toe Jesus dit sien,” (hoe hulle die kindertjies probeer weghou van Hom af), “was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Kinders glo onvoorwaardelik. Daarom is dit vir hulle makliker in hulle kleintyd om Jesus aan te neem en te leer om in verhouding met Hom te wandel.
As mens kyk na vandag se jeug word mens hartseer. So baie van hulle soek hulle geluk op verkeerde plekke. Raak met verkeerde dinge deurmekaar wat hulle totaal van spoor af laat gaan.
Ouers, asseblief, bring jou kinders na Jesus toe. Keer terug na die waarde van Lewe.
Ons kinders is kosbaar. Moenie hulle vir die vyand en die wêreld grootmaak nie. Maak hulle groot met hoop en vertroue in geloof.
コメント