Terminus
- The Rainbow Team
- Mar 5, 2016
- 1 min read

Ek sien die vrae in jou oë, hoor die benoudheid in jou stem; polsende hartklop van vertwyfeling in onsekerheid vasgeklem;
'wees stil, my kind in vertroue gaan jy vrede vind.'
Deur hael en stormwind verniel -
merk geslaan, maar telkens kon jy regop beur met genade ‘n nuwe weg weer baan;
'bly glo, my kind moenie dat twyfel jou denke verslind.'
Wens ek kon jou in veiligheid toeskulp die wrede wêreld se skewe fondament uitruk, om alle pyn, onreg en seer te ontdaan jou teen elke pyl en bomskerf beskut;
'tula...tula, my kind in geloof is waar jy krag sal vind.'
Elke begin het ook ‘n einde waar krom weer reguit druk daarom kan ek maar net vir jou bid vrede en geluk by Hom vir jou gaan pluk;
'wees hoopvol, my kind geen onheil sal jou blywend kan bind.'
©Driekie Grobler
Comments