✞ ✞ ✞ LOS HOM UIT ✞ ✞ ✞
- Arcus Pluvius Ministry - Nico Liebenberg
- Mar 7, 2016
- 2 min read
“”Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie” Matteus 5: 39 . ’n Geselskap toeriste sit in die Yellowstone Park en wag vir ’n dier, wat die skrik van die bosse genoem word, die grysbeer, om te verskyn. . ’n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neergesit, om die beer te lok. Nie lank nie of hy kom massief uit die donkerbos te voorskyn. Die wildbewaarder, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die westelike halfrond se moses. Terwyl hulle so kyk, kom nog ’n dier uit die bos uit en begin saam met die grysbeer die lekker afvalkos vreet. Die grysbeer sou geen ander dier dit toegelaat het nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stinkmuishond. Die beer kon hom met een hou van sy geweldige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aanmekaar! . Daar is viervoetige muishonde, én daar is tweevoetige muishonde. Waneer selfsugtige mense uit jou probeer voordeel trek, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer uitbetaal nie. Jy sal net seerder kry as hulle.” Dit is onverstandig om enige mens te probeer uitbetaal (wraakneem), want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloeddruk, ons gesondheid, ons geluk. Ons haat en wraakgedagtes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte. . Jesus se woorde: “Julle moet julle vyand liefhê,” verkondig moderne gesondheidskunde. Toe Jesus vir Petrus gesê het: “Jy moet 70×7 keer vergewe,” was Hy besig om ons te vertel hoe om hoë bloeddruk, hartkwaal, maagswere en baie ander kwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voorkoms te verbeter. ‘n Mens se gesig kan verrimpel en verhard raak deur haat, en mismaak word deur wrok. Niks kan gelaatsskoonheid bevorder soos vergewensgesindheid, teerheid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat ander, met hulle slegte gesindheid, óns lewe bederf nie. Confusius het gesê: Om verontreg en beroof te word, is niks, tensy jy aanhou om dit te onthou! . Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. ’n Slegte gesindheid is soos ‘n lokomotief wat die trein sleep. Al weet ons verstand ons moe¬nie haat, gebelgd voel of ’n wrok koester nie, die sondige hart is sterker as verstandige denke. Ons het hier Iemand groter nodig. Ons het Jesus self nodig, om deur sy Gees in ons hart sy liefde te gee en te laat groei. Só sal ons ons Hemelse Vader met ons lewensgedrag verheerlik.
Kommentare