✞ ✞ ✞ VOORSPRAAK ✞ ✞ ✞
- Arcus Pluvius Ministry - Nico Liebenberg
- Mar 8, 2016
- 2 min read
. Aan die ander kant het ‘n beter hoop ingetree… Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree Heb.7:19 & 25 . Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het ’n jong soldaat aan die slaap geraak terwyl hy moes wagstaan. Hy is gevonnis om voor ’n vuurpeleton te sterf. ’n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was ’n goeie en gewilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers. Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die voltrekking van so ’n vonnis vereis. Die groep het droewig van die president afskeid geneem. . Sy seuntjie, Tad Lincoln, het onopsigtelik in ’n hoek van die kamer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee ’n plukkie aan sy pa se mou. “Asseblief, Pa, moenie dat hulle daardie arme man doodskiet nie.” Lincoln, reeds ontroer deur die pleidooi van die afvaardiging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep. . ’n Mens voel verlig die saak het so goed afgeloop en die jongman se lewe is gespaar. Tog voel ’n mens die president was nie regverdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat ’n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skuldige daad af te skryf nie. Die Seun van God tree ook vir ons in by sy Vader: Jesus se voorspraak vir ons by sy Vader het regverdige waarde: “Christus Jesus het (vir ons) gesterf… Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” Rom.8: 33 . ’n Groot gerusstelling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.
Comments