Vrede in Christus
- Koppie Troos - Driekie Grobler
- Mar 15, 2016
- 1 min read

Al gaan dit hoe woes in die wêreld, en al lyk dinge hoe deurmekaar, daar is altyd hoop op vrede as mens die reguit pad loop.
Nooit sal ons kan bepaal wat met ons gaan gebeur of hoe ander teenoor ons gaan optree of wat hulle vir ons gaan sê nie, maar ons het ALTYD 'n keuse hoe ons dit gaan hanteer.
Moenie die slegte dinge wat met jou gebeur voor die Here se deur kom lê, of vir Hom kwaad wees of kwalik neem nie. Dit is nie Sy wil dat ons leed aangedoen word nie, maar ons leef in 'n wêreld vol boosheid. Die werke van die bose is die oorsaak van so baie hartseer en verdriet.
Jesaja 57:1-2 "Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; die wat aan die verbond getrou is, sterf sonder dat iemand begryp dat dit deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf. Die wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf."
Dit is vir ons moeilik om God se ontferming en liefde te begryp, maar een ding waarvan ons seker is, is dat dit deur en deur die moeite werd is om Hom te dien en die reguit pad te loop. Ten minste weet ons dan waarheen ons op pad is, en dat daar vrede wag vir ons.
Comments