Vla koek vir Diabete
- Marianne Jacoby
- Apr 10, 2016
- 2 min read

Vla koek vir Diabete
Ek was altyd mal oor ’n vla-koek. Ná my diabetes-diagnose het ek so daarna gesmag. Tot ek besluit het genoeg is genoeg, en my eie vla-koek geprakseer het.
Koek 150 g laevet-margarien 45 ml heuning 150 g (270 ml) bruismeel knippie sout 3 eiers
Vla-vulsel 500 ml laevet-melk 30 ml suikerplaasvervanger knippie sout 100 ml vla-poeier 50 g laevet-margarien 125 ml suikerplaasvervanger 5 ml vanieljegeursel vars appelliefies vir versiering
Verhit oond tot 170 ºC. Spuit ’n losboom-koekpan van 20 cm deursnee met kleefwerende kossproei. Smelt margarien saam met heuning. Sif meel en sout saam. Klits eiers saam tot lig. Voeg heuning margarien-mengsel in ’n dun stroompie by eiers. Klop meel by tot daar geen klonte meer is nie. Skep in voorbereide pan en bak vir ongeveer 20 – 30 minute tot gaar. Koel af en sny in die helfte. Vulsel Verhit die melk, 30 ml suikerplaasvervanger en sout saam. Meng vla-poeier met ’n bietjie koue melk tot ’n gladde pasta sonder klonte. Voeg bietjie van warm melk by en roer tot opgelos. Gooi vlamengsel terug by warm melk. Verlaag hitte en kook tot dik. Plaas kastrol in ’n groter houer wat met water en ysblokkies gevul is tot vla afgekoel is. Roer af en toe sodat die vla nie ’n vel vorm nie. Room margarien en 125 ml suikerplaasvervanger tot liggeel terwyl die vla afkoel. Klits lepels vol van die vla-mengsel by die margarien-mengsel tot al die vla gebruik is. Roer die vanieljegeursel by. Vul en bedek koek met die vla-vulsel. Versier met appelliefies. Om te weet Die koek val bietjie plat as jy hom uit die oond haal, maar dis reg so.
KOMMENTAAR Die vla-koek moet verkieslik in 12 skywe gesny word. Die GI van die koek is nie heeltemal so laag nie en die vet-inhoud is hoog.
Comentários