Basiese brooddeeg
- Marianne Jacoby
- Apr 12, 2016
- 2 min read

• 2 x 10 g-pakkies kitsgis (50 g vars gis, indien jy verkies) • sowat 600 ml louwarm water • 1 kg koekmeel • 30 ml suiker • 10−15 ml sout • 60 ml olyfolie Los die gis op in sowat 50 ml van die water. Sif die meel, suiker en sout saam en maak ’n holte in die middel met jou hand. Voeg die gismengsel, die res van die water en die olie by en sprinkel ’n bietjie meel oor die oppervlak. Laat staan op ’n warm plek vir sowat 15−20 minute of tot die mengsel borrels op die oppervlak maak (dié stap is opsioneel, maar verbeter die geur van die brood). Meng die meel nou stadig, bietjie vir bietjie, met ’n sirkelbeweging van buite na binne by tot die deeg te styf is om verder te roer. Keer dit uit op ’n skoon werkoppervlak en knie tot glad soos ’n baba se boudjies. Sit die deeg in ’n skoon, meelbestrooide mengbak, bedek dit met ’n lap of kleefplastiek en laat staan dit op ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume (sowat 1 uur). Knie die deeg af, verdeel dit in twee en vorm brode. Sit die deeg in gesmeerde broodpanne en laat dit weer rys tot dubbel die volume (dié keer sowat 45 minute). Voorverhit die oond. Sny met ’n lemmetjie of skerp messie ’n keep in die oppervlak van die brode en sprinkel meel vir die mooi bo-oor. Bak vir 15 minute teen 220 °C, verlaag dan die temperatuur na 180 °C en bak vir nog 20−30 minute. Toets deur die bodem van die brood te klop – as dit hol klink is die brood gaar.
Comments