Ciabatta sonder knie
- Marianne Jacoby
- Apr 15, 2016
- 2 min read

Dis maklik, en jy’t niks meer nodig as as ‘n platboom swartpot en sowat 18 ure vir rystyd nie. En selfs as jy nie ‘n ysterpot het nie, sal ‘n Pyrex skottel met ‘n deksel ook deug.
Maak 1 groot brood
Rystyd 18 tot 22 ure
750 ml witbroodmeel (ekstra vir oorsprinkel)
2 ml brouersgis
6 ml sout
375 ml kraanwater
Ekstra meel of semels vir vorm
Meng meel, gis en sout in ‘n groot mengbak. Voeg water by en roer met ‘n lepel tot goed gemeng. Die deeg sal baie klam en klewerig wees. Bedek die bak met kleefplastiek en laat deeg 14-18 ure rus by kamertemperatuur. Die deeg is reg as die oppervlak vol lugborrels is.
Plaas deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak. Sprinkel nog meel oor die deeg en vou dit 2 keer. Bedek lossies met kleefplastiek en laat 15 minute rus. Vorm die deeg in ‘n bal, gebruik net genoeg meel om te voorkom dat dit aan die vingers of die oppervlak kleef. Sprinkel heelwat semels of witbroodmeel oor ‘n katoenvadoek en plaas die bol deeg bo-op die meel of semels. Sprinkel nog meel of semels bo-oor. Bedek met nog ‘n katoenvadoek en laat 2 ure rys.
Die deeg sal omtrent in volume verdubbel. Voorverhit die oond tot 230°C ten minste 30 minute voordat die deeg reg is. Plaas ‘n gesmeerde (5 – 7 liter) gietyster, enamel, Pyrex of keramiekpot, wat ‘n digpassende deksel het, in die oond terwyl dit voorverhit. Haal die pot versigtig uit die oond sodra die oond die regte temperatuur bereik het. Skuif die hande onder die vadoek met die deeg en keer dit versigtig om in die warm pot. Skud die pot 2 keer as die deeg oneweredig versprei is. Sit die pot se deksel op en bak 30 minute. Verwyder die deksel en bak nog 15 – 30 minute of tot die brood mooi bruin is. Laat die brood effens in die pot afkoel en keer dan op ‘n draadrak uit.
Opmerkingen