Heuningmosterd-soutvarkboud
- Marianne Jacoby
- Apr 22, 2016
- 2 min read

Jy hoef nie soutvarkboud (gammon) net met Kersfees voor te sit nie. Dis ook baie lekker vakansiekos. As jy ’n koue, gaar varkboud in die yskas het, kan jy dit op soveel verskillende maniere gebruik, soos op pizza, in pastaslaai of dit in tortillas toerol.
■ 2 kg rou, gerookte varkboud, verkieslik in ’n vleisnet ■ 5 cm vars gemmer, in skyfies gesny ■ 1 ui, gehalveer ■ Fyn sout
Smeermengsel ■ 45 ml heuning ■ 30 ml bruinsuiker ■ 10 ml heelkorrelmosterd
Plaas die varkboud in ’n groot, diep kastrol saam met die gemmerstukkies en ui. Bedek heeltemal met koue water en verhit tot kookpunt. Laat kook die boud vir 30 minute per 500 g vleis (’n varkboud van 2 kg sal dus 2 uur lank kook).
Verwyder die kastrol van die hitte en laat die boud in die aftreksel afkoel tot dit koud genoeg is sodat jy dit met jou hande kan uithaal sonder om te brand.
Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ’n groot bakplaat met foelie uit. Sit die varkboud met die velkant na bo op die bakplaat neer. Knip die vleisnet los indien die boud in ’n net was. Maak die vel versigtig aan die een kant van die boud los en trek dit stadig af. Jy behoort nou ’n egalige vetlaag op die boud te hê.
Besprinkel die vetlaag met fyn sout en laat staan vir 5 minute. Meng die bestanddele vir die smeermengsel goed saam. Gebruik sommer jou hande en smeer die mengsel goed in die vetlaag in. Sit die boud in die oond en oondrooster tot die vetlaag bros en goudkleurig is. Laat die varkboud afkoel en sny skywe af soos nodig. Lewer 8-10 porsies.
Commentaires