VAT VYF
- Jerigo Mure Internasionale Gebedsnetwerk
- May 4, 2016
- 5 min read

'n Bid-Omgee-Getuig Leefstyl
'n Eenvoudige, effektiewe strategie om mense te bereik wat die seën van God in hul lewens nodig het. Hierdie is 'n eenvoudige konsep om jou te help om mense met die evangelie van Jesus Christus te bereik. Elders in die wêreld word daarna verwys as gebedsevangelisasie. Dit is 'n eenvoudige strategie wat alle Christene kan gebruik om uit te reik na vriende, familie, kollegas en bure.
Stap 1 - Kies 5 vriende / families om voor te bid
Vra die Vader biddend vir die name van 5 vriende, familielede, werkskollegas of bure wat die seën van God en meer van Jesus in hul lewens nodig het. Skryf hul name hieronder neer: 1. ____________________________________2. ________________________________ 3. ____________________________________4. ________________________________ 5. ____________________________________ (Moenie hiervan 'n wet maak nie. As jy voel dat 5 mense vir jou te veel is, begin met twee of drie; dis ook in orde as jy kans sien om vir meer as 5 mense te bid. Dis slegs 'n voorstel dat jy met 5 mense moet begin.)
Stap 2 - Bid 5 seëninge vir hulle, vir 5-10 minute per dag, vir ten minste 5 dae per week.
Wanneer jy vir hulle bid, bid vir die volgende vyf dinge: 1. Liggaam - gesondheid, beskerming, krag 2. Arbeid/Werk - werk, inkomste, sekuriteit 3. Emosioneel - geloof, hoop, liefde, vrede 4. Sosiaal - liefde, huwelike, goeie verhoudings met familie, vriende, bure, by die werk 5. Geestelik - Saligheid, geloof, genade, barmhartigheid, geestelike groei (Jy kan later ander versoeke byvoeg, maar begin met hierdie vyf gebedspunte en bid dit vir hierdie vyf mense/families)
Wanneer jy vir die redding van mense bid, kan jy God ook vra dat deur die kragvolle werking van sy Heilige Gees, mense sal begin om hulself die volgende vrae te vra:
1. Wie kan ek vertrou? 2. Wat is die doel van my lewe? 3. Wanneer sal ek vry wees? 4. Waar gaan ek heen wanneer ek sterf? 5. Waarom haat ek God? / Waarom hardloop ek van God af weg? 6. Hoe kan ek my probleme hanteer? 7. Waar sal ek veilig wees? / Wie kan my beskerm?
Stap 3 - Gee om vir mense: Help mense in hulle nood en help om hulle laste te dra
Kan ek meer doen as net bid? Verseker, ja! Nadat jy vir jou 5 vriende / families begin bid het, wees op die uitkyk en vra die Here hoe jy hulle prakties kan versorg/bedien. Een van hulle mag siek word: kook vir hulle 'n maaltyd, neem hul kinders skool toe, help met hul wasgoed. Iemand se motor mag onklaar raak: gee hom 'n geleentheid werk toe of leen vir hom jou motor. Wanneer daar nood is, bied aan om vir hulle te bid. Moenie 'n ophef maak nie, vra of jy vir hulle mag bid. Vra God om hulle te help en seën hulle.
Stap 4 - Vertel hulle van Jesus en die goedheid van God
Die volgende stap is om op die uitkyk te wees vir normale/natuurlike geleenthede om jou geloof in God met hulle te deel. Moet dit nie aan hulle opdring nie. Haal so nou en dan 'n skrifgedeelte aan; vertel van 'n antwoord op gebed, bied aan om vir hulle te bid.
Terwyl jy vir hulle bid en regtig omgee en soos wat jul vriendskap ontwikkel, sal daar meer geleenthede opduik waar jy jou geloof met hulle kan deel.
Stap 5 - Volhard vir minstens een jaar
Die implementering van hierdie vyf stappe in jou lewe sal lei tot wat genoem word 'n gebed-omgee-getuig lewenstyl. Hierdie is 'n eenvoudige, praktiese, nie-bedreigende vorm van evangelisasie - en selfs kinders kan dit doen. Dit is uiters effektief om mense met die evangelie van Jesus Christus te bereik.
Waarom moet ek my bure/vriende seën?
God het vir Abraham geseën dat Hy hom sal seën en dat al die nasies deur hom geseën sal word (Gen.12:3). In Numeri 6:24-26 leer God vir Aäron hoe om die mense te seën: ‘Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!’
In Joh.1:16 leer die Woord ons dat ons deur Jesus Christus genade op genade ontvang. In Gen.1 lees ons dat God die hemel en die aarde geskep het en dit toe geseën het. God wil mense seën en wil hê dat hulle geseënd sal wees. Statistiek toon dat soveel as 98% van alle mense daarvoor oop is dat jy vir hom/haar kan bid en vir God kan vra om hom/haar te seën.
Hoe bid ek seëngebede?
Jy kan a) 'n seën oor mense uitspreek (bv.: Ek seën jou in Jesus Naam) of b) jy kan vir God vra om mense te seën (Vader, in Jesus Naam vra ek dat U XX sal seën). Wanneer jy seën uitspreek, doen jy dit in sy Naam en met sy seën. Voorbeeld van hoe jy kan bid: ‘Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! So moet die priesters My Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.’ (Num.6:23-27) Vader, ek roep U Naam oor XY uit: Seën en beskerm hom/haar vandag. Here verskyn tot sy/haar redding in elke situasie en wees hom/haar genadig. Vader, verhoor sy/haar gebede en gee vir hom/haar U vrede.
Ander seëngebede in die Skrif wat jy kan gebruik:
• Hy (God die Vader) het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. (Ef.1:3) • Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Kor.13:13) • Die genade van die Here Jesus sal by julle wees! (1 Kor.16:24) • En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderlike rykdom in Christus Jesus. (Fil.4:19-20) • Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. (1 Tess.5:23-24) Wat maak hierdie strategie effektief? • Nie alle mense het die gawe van evangelisasie nie, maar almal van ons kan bid, selfs die grootste introvert en mense wat dit moeilik vind om met ander te praat of openlik te getuig. • Dit is 'n nie-bedreigende en "normale" strategie waar jy vir mense kan bid, verhoudings en vriendskappe met mense kan bou en vanuit 'n vriendskapsverhouding teenoor mense kan getuig. • Meer mense is bereid om te luister na wat jy hulle van Jesus Christus wil vertel as hulle kan sien dat jy regtig op 'n praktiese manier vir hulle omgee en hulle lief het. Ons dade is sterker as ons woorde.
Jou gesindheid in gebed
• Bid met geloof - God antwoord gebed. (Heb.4:16, 11:6) • Wanneer jy bid, moet jy onthou dat niks vir God onmoontlik is nie. (Mark 10:27) • Bid met 'n hart vol liefde en omgee vir ander mense. (Matt.9:36) • Volhard in gebed. (Luk.18:1) • Bid met 'n rein hart. (Spr. 28:9,13)
Bid saam met ander
Wanneer jy vir vyf bure of vriende begin bid, kan jy alleen bid, maar dit is altyd beter en 'n groot bemoediging as jy nog minstens twee ander persone kry wat saam met jou ook vir vyf persone kan bid. Moedig jou gesin, jou selgroep, twee ander kinders/onderwysers in die skool of twee van jou kollegas by die werk wat ook Christene is, aan om saam met jou 'n klein gebedsgroep te vorm en saam met jou te bid.
Skrifgedeeltes vir gebed
Hier is nog 'n aantal Skrifgedeeltes wat jy in jou gebedstyd kan gebruik:
Joh.3:16,Joh.6:63, Joh.6:44, Joh.5:21, Joh.16:8-11, 2 Kor.4:3-4, 2 Kor.10:3-6, 2 Pet.3:9, Matt.18:14, 1 Tim.2:3-4
Comments